Dorp van die Jaar: Potch onder top 3
Potchefstroom was onder die top drie in vanjaar se Kwêla Dorp van die Jaar kompetisie. Hentiesbaai was die wenner en Paul Roux was die ander dorp onder die top drie. Potchefstroom was vir die derde keer in vyf jaar ‘n finalis in dié kompetisie. Anne-Marie Raath, die organiseerder van die projek in die stad, en wat vroeg-vroeg die Potch-Tlokwe Sakekamer aanboord gekry het, sê dit was beslis die moeite werd, al het Potchefstroom nie gewen nie.
Potchefstroom was onder die top drie in vanjaar se Kwêla Dorp van die Jaar kompetisie.
Hentiesbaai was die wenner en Paul Roux was die ander dorp onder die top drie. Potchefstroom was vir die derde keer in vyf jaar ‘n finalis in dié kompetisie. Anne-Marie Raath, die organiseerder van die projek in die stad, en wat vroeg-vroeg die Potch-Tlokwe Sakekamer aanboord gekry het, sê dit was beslis die moeite werd, al het Potchefstroom nie gewen nie.
’n Dorp van die Jaar-komitee is saamgestel wat bestaan het uit verteenwoordigers van die Sakekamer, Sidney Fuller en Johan Vogel (koördineerders van die skoonmaakprojek), Tlokwe Stadsraad, die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom Toerisme Vereniging en N12-Toerisme Vereniging.
Daar is sonder ‘n begroting groot planne beraam om seker te maak dat elke persoon wat in of om Potchefstroom beweeg, van die kompetisie weet.
Raath sê die hoeveelheid stemme wat Potchefstroom gekry het is verstommend, veral in ag genome dat daar, anders as in Hentiesbaai, geen geldelike hulp was waarmee mense kon stem nie. Die Lionsklub het in Hentiesbaai R80 000 beskikbaar gestel waarmee gestem kon word, sê sy.
Die stemme uit Potchefstroom is suiwer uit bemarking en die positiewe ingesteldheid van Potchefstromers gegenereer waarmee dorpe soos Hermanus en Dullstroom uitgeskakel is.
Raath vertel met trots hoe sakelui, instansies, skole en veral individue in Potchefstroom vanuit alle oorde ingekoop het. “Mense het met entoesiasme begin saamstaan en kompetisies onder mekaar geloods. Die pogings waarvan ons weet het ons heeltemal verstom – wat nog te sê van al dié waarvan ons nie weet nie.” Delmari van Zyl, hoof operasionele bestuurder van die Potch-Tlokwe Sakekamer, sê dit is vir hulle belangrik om momentum te behou. “Die feit dat Potchefstromers so entoesiasties was oor die projek, maak mens opgewonde. Daar sal met die skoonmaakprojekte voortgegaan en vanuit die Sakekamer se kantoor gekoördineer en gekommunikeer word”, sê sy. Hou ook die Potchefstroom: Kwêla Dorp van die Jaar Top 3 Facebook-blad dop vir meer inligting. Sien elders ’n lys van instansies wat bedank word vir hul hulp.