Onderrig in VS skiet ver tekort
Suid-Afrika het een van die hoogste universiteit uitsaksyfers ter wêreld. Ons wil gratis tersiêre onderrig bied, maar leerders word nie bemagtig om die mas van universiteitsvakke en standaarde op te kom nie.

Só het VF Plus-LPW, Tammy Wessels, Vrydag gesê in haar toespraak tydens die begrotingsposdebat van die Vrystaatse departement van onderwys in die Vrystaatse wetgewer.
Wessels sê die Vrystaatse departement van onderwys bemagtig en ondersteun nie leerders om produktiewe lede van die gemeenskap te word wat ‘n positiewe bydrae tot die samelewing lewer nie.
Die matriekslaagsyfer in Suid-Afrika vir 2017 was 75.1% met ‘n minimum slaagpersentasie van 30%. As die slaagpersentasie 40% was sou slegs 54% van leerders geslaag het. Dit bewys dat die kwaliteit van onderrig nie voldoende is nie en dat ‘n groot persentasie van leerders met ‘n minimum van 30% deurskuur, het sy gesê.
“Die regering behoort eerder in die kwaliteit van onderrig in die Vrystaat te belê in plaas daarvan om tevrede te wees met middelmatigheid ter wille van ‘n hoë slaagsyfer.”
“Onderwysers behoort bemagtig te word. Afwesigheid van onderwysers is ‘n groot probleem in die Vrystaat en behoort dringend aangespreek te word. ”
Wessels het dit ook beklemtoon dat onderrig entrepreneurs gerig behoort te wees vir selfbemagtiging en werkskepping.




