
ʼn Kennisgewing oor ʼn privaatlid-wetsontwerp van die VF Plus oor die toelaatbaarheid van openbare byeenkomste naby plekke van onderrig en ander instellings waar minderjariges teenwoordig is, is nou in die Staatskoerant gepubliseer en die publiek kry die geleentheid om insette daaroor te lewer.
Dié proses vir die wetsontwerp is in Januarie vanjaar geïnisieer nadat by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging gesien is hoe ontwrigtend protesoptredes by skole kan wees. Die doel van die wetsontwerp is daarom om optogte rondom skole en ander plekke waar minderjariges teenwoordig is, te verbied.
Die kennisgewing is Donderdag 21 Junie 2018 gepubliseer, en die publiek word dertig dae gegun om daarop te regeer. (Kennisgewing hierby aangeheg). Die finale wetsontwerp sal geskryf word aan die hand van onder meer die insette en voorstelle wat van die publiek ontvang sal word.
Die VF Plus sal ʼn bewusmakingsveldtog oor die aangeleentheid op sosiale media voer en het reeds ʼn webwerf geskep waar mense kan registreer om hul steun te toon. Die webwerf is www.onskinders.co.za.
Die wette wat verander sal moet word om dié doel te bereik, is onder meer die Nasionale Skolewet en die Wet op die Regulering van Byeenkomste. Dit sal van toepassing wees op skole van voorskoolse- tot sekondêre vlak, asook ander instellings soos kinderhuise.
Die VF Plus sê soos die situasie tans is, word die regte van vredeliewende landsburgers, en in besonder leerlinge, hoegenaamd nie in ag geneem nie en word hulle veiligheid bedreig weens die aard wat optogte en protes-aksies aanneem.
Die VF Plus sê die beoogde privaatlid-wetsontwerp is daarom van die grootste belang om alle kinders teen ontwrigting te beskerm, veral in skole, en om hul fundamentele regte, soos dit in die Grondwet vervat word, aan te vul.
Vir meer inligting of om ‘n afskrif van die beeogde wet te kry skakel 082 391 3117 / 065 801 7216.




