Parys – Talle ondernemings in die toerismebedryf in Parys voel reeds die finansiële impak van die besoedeling van die Vaalrivier. Hiervan het ’n Facebook-inskrywing op ‘n Parys-groep die naweek boekdele gespreek. In die boodskap word gevra vir name van kampeerplekke, maar net “nie langs die Vaalrivier nie”.
Dit terwyl Parys se ekonomie grotendeels afhanklik is van toerisme met talle avontuur-toerisme aktiwiteite en fasiliteite waarvan die rivier die hartklop is. So ook in die Vredefort Koepel wat juis as erfenis bewaar moet word. Dat die besoedeling van die Vaalrivier ’n invloed het op eko-toerisme in Parys, is só, en sal die volle impak daarvan waarskynlik eers in die somermaande gesien word.
Volgens Bennnie Pretorius, eienaar van Real Adventures wat spesialiseer in avontuur-toerisme aktiwiteite, is daar ’n afname in besprekings, en het kliënte baie vrae na die publisiteit wat die afgelope week aan die besoedeling van die Vaal gegee is. Gerrit Viljoen, eienaar van The Beast Tamer Yellowfish Guiding, stem saam en sê dat die situasie soos dit tans is, die bedryf baie negatief beïnvloed.
“My droom om as geelvisvlieghengelgids te werk, lê aan skerwe! Agt en negentig persent van my kliënte kom van Gauteng omdat Parys so naby is. Met al die video’s en foto’s wat hierdie week die ronde op sosiale media gedoen het, het al my besprekings en navrae oornag opgedroog, en soek mense groener weivelde in ander riviere en of damme.”
“Winter is die ideale tyd om ’n bielie van ’n ‘Kalwerkop’ te haak, maar ongelukkig gaan dit nie hierdie jaar gebeur nie,” sê Gerrit.
Intussen is nog geen ingrypende aksie geneem om die rioolbesoedelingskrisis in die Vaalrivier aan te spreek nie, en ly mense daagliks weens die negatiewe uitwerking daarvan. In Emfuleni, waar munisipale dienslewering byna in duie gestort het, maar ook hier in Parys, en die Vredefort Koepel Wêrelderfenisgebied.
Skuim dryf op die water, visse vrek, waterplante en voëls word geaffekteer, en die drinkwater in krane ruik walglik, is bruin of selfs groen met tye, kla inwoners.

Dit is die water waarin jy moet bad, en vir gaste moet gee. ’n Rivier wat van Parys ‘n juweel vir besoekers gemaak het.
In ’n poging om iets daadwerkliks aan die krisis te doen, is die Vaal Action Group gestig wat Maandagaand ’n openbare vergadering gehou het om ook die publiek in te lig.
Volgens Departement Waterwese is die toetsuitslae wat op 23 Julie van watermonsters by verskeie punte in Parys geneem is, glo nog nie bekend nie. Maar rioolstorting by Emfuleni gaan voort. Talle mangate loop oor by Sebokeng, Orange Farms, Boipatong en Evaton is berig, terwyl riool pompstasies nie na behore funksioneer nie. Sedert Mei word werknemers verhinder om in die Sebo-keng rioolwerke te kom. Dit vir werksgeleenthede. Mense leef in die haglikste omstandighede met riool-oorvloei waardeur geloop moet word.
Ook die Ngwathe-munisipaliteit is skuldig aan herhaaldelike rioolstorting, maar het wel die afgelope week die probleme by die Mbeki rioolpompstasie reggestel. So is ook die pyplek tussen die dorp se rioolwerke en die rivierpompstasie wat vir twee maande lank riool in die Vaalrivier laat inloop het, nou uiteindelik reggemaak. Maar teen Dinsdag moes daar weer gewerk word om die riooloorloop by Tokoloho-pompstasie te herstel. Volgens munisipale woordvoerder, Steve Naale, is die oorloop die gevolg van ’n elektriese probleem en word alternatiewe kragvoorsieningsmetodes vir die pompstasie nou oorweeg.
Tog is beide die Emfuleni en Ngwathe munisipaliteite al in die verlede met ‘n hofbevel gelas om rioolstorting te stop.
Dit is nie net die riool wat die probleem is nie, maar ook seep en chemikalieë, en fosfate en nitrate wat in die water beland wat veroorsaak dat rivier-alge hand uit ruk. As die hoogs fosfaat gevulde water deur die strome gaan, is dit soos ‘n wasmasjien vol seep wat skuim veroorsaak. ‘n Ramp in ons natuurlike hulpbronne.




