
Ek is ‘n pot sonder ‘n deksel.
Daar het julle dit nou, en nee – ek het nie ‘n hangup daaroor nie (trues bob). Dit wil my egter voorkom asof my dekselloosheid vir die mense om my ‘n rede tot kommer is.
Ek het eintlik nog nooit aan myself as ‘n pot of kastrol of braaipan gedink nie, maar as ek nou moet, verkies ek om ‘n Le Creuset souspannetjie te wees. Statig, maar all the rave. Sag op die oog, maar funksioneel (ek mag dalk hier ‘n bietjie aandik…). Geredelik beskikbaar, maar te duur vir ‘n gewone sterfling. In kort: unattainable by choice.
Maar van waar hierdie pot en deksel praatjies?
Jy sal my nou nie glo nie, maar ek is nou al tweekeer vandag gevra of ek en my deksel (metgesel/aanhangsel/sleepsel/kêrel/mansvriend/eggenoot/wederhelf/lewensmaat) beskikbaar is om ‘n geleentheid of drie by te woon. Nou gewoonlik sal dit my nie pla nie, maar vandag wil al wat leef en beef by my weet of ek nie maar ‘n “plan” kan maak nie… so asof ek vinnig na werk by my vriend Google moet inklop, ‘n bier wegsluk en woerts-warts ‘n deksel aanmekaar sit.
En ons almal weet dat deksels nie geforseer moet word nie! Kyk nou net wat gebeur met ‘n onskuldige roomysbak in die mikrogolfoond: dit trek skeef, en dan help ‘n deksel (of ses) jou net mooi niks. Dan is cling wrap jou enigste opsie.
Ek dink dit is hoogtyd dat diegene wat snags wakker lê oor dekselloses (soos die uwe), begryp dat potte en deksels oor die algemeen nie interchangeable is nie (en as die deksels oor-en-weer pas, dan is dit gewoonlik binne’n stel en die samelewing frons oor sulke familiêre pot-en-deksel verhoudings). Neem nou maar jou staatmaker Pyrex oondskottel. Daar is nie ‘n manier hoe jy ‘n Le Crueset deksel op ‘n Pyrex oonskottel sal maak pas nie. As jy dit wel sou regkry, sou dit kompleet wees asof jy ‘n Gert van der Merwe courtier skepping met ‘n paar nerf-af wit patent leathers en geel fishnets saamgooi. Ongehoord! Dit is amper erger as om ‘n Jamie Oliver-braaipan met ‘n blink Hart-kastroldeksel in die eg te verbind.
My oorle’ Ouma Jannie het sulke driehoekpotjies gehad. As jy hulle langs mekaar pas dan kon jy omtrent vier potjies op ‘n oondplaat inpas (en kon jy omtrent drie kabouters voed). Ek wonder of dit in terme van die pot-en-deksel vergelyking as vry-in-die-bondel sou deurgaan? En as dit wel die geval is… wat op aarde sal jy Verimark se ek-suig-vas-aan-alles-deksels noem?
Volksvreemd?
Al wat oorbly om te sê is: Moenie stres oor potte sonder deksels. Iewers, agter in elke yskas, staan ‘n verdwaalde roomysbak met ‘n laag cling wrap oor! (En ja, ek wil glo dat daardie roomysbak salig gelukkig is). Ek weet hierdie Le Creuset souspannetjie is!




