
Die polisie in Parys en die Parys Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF) waarsku sakelui van die dorp dat inbrake by besighede steeds ‘n probleem bly.
Van selfone tot rekenaars, rekenaartoerusting en gereedskap word gesteel. Toegang tot die besighede word dikwels gekry deur vensters te breek, of selfs deur die dak in te kom.
Besigheidseienaars word daarom gevra om ag te slaan daarop sou die alarm by jou besigheid afgaan.
Waar straatligte nie werk nie, is dit raadsaam om veral by jou huis ekstra beligting aan te bring. Ligte wat aangaan sou daar beweging wees, is ook ‘n pluspunt.
Nog ‘n ernstige bron van kommer is diefstal van en diefstal uit voertuie. Dit word steeds gesien dat mense hul motors parkeer maar nie sluit nie, of dat waardevolle items sigbaar in die motor gelos word.
As jy by mense gaan kuier, probeer liewer in die erf parkeer as in die straat. Sluit altyd jou voertuig.




