NewsNews

Ds Sarah-Jane Wessels: Preekstoel-tyd, genade-tyd, groet-tyd

Ds. Sarah-Jane Wessels, ‘n jarelange en baie geliefde inwoner van Parys, is  vanoggend, Donderdag 4 April, in die Nelspruit Mediclinic oorlede.  Sy was die afgelope paar maande in Witrivier gevestig waar sy moedig haar stryd met pankreas-kanker gestry het. Sy was 81. Ds. Sarah-Jane was nie een vir stilsit nie. Of dit op die preekstoel of …

Ds. Sarah-Jane Wessels, ‘n jarelange en baie geliefde inwoner van Parys, is  vanoggend, Donderdag 4 April, in die Nelspruit Mediclinic oorlede.  Sy was die afgelope paar maande in Witrivier gevestig waar sy moedig haar stryd met pankreas-kanker gestry het. Sy was 81.

Ds. Sarah-Jane was nie een vir stilsit nie. Of dit op die preekstoel of agter die RSG-radio-mikrofoon was vir haar gereelde oordenkings. Met haar op-die-man-af manier het sy die evangelieboodskap nuut en vars oorgedra en mense aangegryp.

Sy was ‘n toonbeeld van lewenslus en positiewe energie.

Al het die jare aangestap het die glimlag en borrelende energie waarmee sy haar dagtaak aangepak het, jou keer op keer opgeval wanneer jy haar sou raakloop in die strate van Parys waar sy en haar man, Wessel, vir baie jare gevestig was. Selfs toe sy later met haar batterygedrewe karretjie haar dorpsdraaie gedoen het, het die glimlag gebly.

In haar lewe het sy die voorreg gehad om  vir ‘n tyd in die bediening te kon staan, en het haar vierde boek, “Mense soos ek en jy”, vyf jaar gelede uit haar pen verskyn. Die bekendstelling daarvan by die NG gemeente Parys-Oos waar sy ook diep spore getrap het.

Met vroue wat vroeër nie in die amp as predikant toegelaat is nie,  het ds. Sarah-Jane begin studeer toe haar jongste dogter in matriek was. Haar meestersgraad het sy onder leiding van prof. George Lotter voltooi.

Daarna het sy in talle gemeentes afgelos as predikant. Sy was gereeld die spreker by vroue-byeenkomste, maar het ook as pastorale terapeut uitgereik na vele.

Haar laaste boek het sy begin skryf op aanvraag van baie vriende, gemeentelede van gemeentes waar sy afgelos het, en op sterk aanbeveling van ‘n vriend, prof. Flip Theron, aan wie se nagedagtenis sy die boek opgedra het.

“Mense soos ek en jy” vertel die stories van Bybelse figure wat maar net gewone mense was soos ek en jy.

Hierbenewens was sy die skrywer van “Oor lewe en geloof; God in die gebeure van elke dag”, “Julle hoor mekaar nie”, en “mevrou Dominee, Jy mag maar wees”, geskryf saam met prof. George Lotter.

In talle Facebook-boodskappe is daar vandag hulde gebring aan hierdie merkwaardige vrou. Iemand wat onthou sal word vir haar “sagte moederhart en oneindige kapasiteit om stukkende en gebroke mense lief te hê en te versorg.” Vir baie was sy ‘n “ma” en vriendin wat op ‘n besondere manier kon vertroos of dit met ‘n sagte aanraking of ‘n bord kos was, is geskryf.

  • Ons innige medelye met haar gesin en familie. Rus sag tannie Sarah-Jane. Parys sal jou onthou.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button