
Vir baie vuurwapeneienaars is daar steeds groot verwarring rondom die verval en hernuwing van vuurwapenlisensies.
Waar het dit alles begin?
Met die inwerkingtreding van die nuwe wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) het ‘n aantal dinge vir vuurwapeneienaars verander.
Eerstens moes jy nou bewys lewer van bevoegdheid om ‘n vuurwapen te kan hanteer voordat jy kon aansoek doen om die besit van ‘n vuurwapen.
Wat dit in kort behels, is ‘n teoretiese eksamen asook ‘n skiettoets, waarna jy dan na die polisie kan gaan met die nodige dokumente en vir ‘n bevoegdheidsertifikaat aansoek doen.
Wanneer so ‘n sertifikaat dan deur die polisie aan jou uitgereik sou word begin die aansoek om lisensie.
Vir die aansoek van ‘n lisensie word daar weer ‘n aantal dokumente ingevul en dit moet vergesel word van ‘n volledige motivering van waarom jy die betrokke vuurwapen nodig het.
Ek gaan my nie hier uitlaat oor al die
verskillende gebruike van bogenoemde nie, maar ek kan wel ‘n enkele voorbeeld gebruik.
Persoon X neem al jare lank saam met sy vriende deel aan kleiduif-skiet en het besluit dat dit tyd is om sy eie haelgeweer aan te skaf.
Hiervoor word dan ‘n motivering benodig wat kan bewys lewer dat dit ‘n sportsoort is en dat persoon X graag hieraan wil deelneem.
Intussen word die betrokke vuurwapen gestoor by die handelaar of private persoon waar jy dit gekoop het. Sodra die lisensie goedgekeur word en die lisensiekaart ontvang is deur die nuwe eienaar mag hy dit in besit neem.
Nou waar is die verwarring dan?
Met die inwerkingtreding van Wet 60 van 2000, moes alle huidige vuurwapeneienaars oorskakel van die ou groen lisensiekaart of lisensie in die ID-dokument, na die nuwe wit lisensiekaarte. Sou jy dit nie doen nie, kon daar krimineel teen jou opgetree word.
Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) het ‘n hofsaak aanhangig gemaak en dit toe gewen, wat in kort bepaal het dat daar dan nie kriminele vervolging sal wees indien die ou lisensie nie oorgeskakel word na die nuwe wit lisensiekaart nie.
Skielik het daar verwarring ontstaan oor wie nou eintlik ‘n wettige lisensie besit.
Die hof het besluit dat totdat die polisie hul admin in orde kry, alle groen- en ID-lisensies wettig bly, behalwe in gevalle waar die persoon aansoek gedoen het vir die nuwe lisensie.
Hierdie nuwe lisensies het egter ook ‘n vervaldatum – in die geval van selfverdedigingslisensies is dit 5 jaar en vir jaggewere 10 jaar. Daar is egter ook ander tipe lisensies.
Ongelukkig vergeet baie vuurwapeneienaars van hierdie vervaldatum.
Nou wat is die vraag?
Die SAJWV het weer hof toe gegaan met ‘n aansoek om Artikels 24 en 28 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens ongrondwetlik te laat verklaar.
Regter Tolmay het in die guns van die SAJWV beslis, maar die polisie het appél aangeteken en later ook die appélsaak gewen.
Hierna het GOSA (Gun Owners Association of South Africa) weer ‘n hofaansoek gebring om die polisie te verhoed om eienaars van vuurwapens wie se lisensies verval het, te vervolg.
Wat is tans die geval?
Soos sake tans staan kan jy egter nie jou vuurwapen gebruik as jou vuurwapenlisensie verval het nie.
(Inligting saamgestel deur Sons of Guns).




