
Goeie nuus vir motoriste wat al goed gatvol is vir die baie gat en weinig teerpad in sekere strate in Parys, is dat herstelwerk uiteindelik gedoen word by vier kruisings in Oudewerfpark.
Daar word nou gewerk by die kruising van Hospitaalweg en Wesselstraat.
Daarna kom ‘n gedeelte van President Brandweg aan die beurt, en ook die kruising van President Brandweg en Mullerstraat.
Hierbenewens sal ook gewerk word by Venus- en Waterstraat.
Die hoop is dat moontlik nog strate daarna herstel sal kan word.
Die herstelwerk word gedoen deur plaaslike kontrakteur, Peter Mqaisa van Twin Brothers Construction, in opdrag van die Ngwathe munisipaliteit. Peter was ook verantwoordelik vir die herstel van die kruising by Loop- en Waterstraat waar ‘n pyplek vir lank groot konsternasie en verweer van die teeroppervlak veroorsaak het.




