Kragslenter steek weer kop uit: Ngwathe waarsku
Verskeie Parysenaars het verlede jaar dieselfde dreigemente van swendelaars gekry.
‘n Ou kragslenter waarmee swendelaars individue maar ook besighede om die bos lei deur hulle voor te doen as munisipale amptenare, en dan dreig om jou elektristeitstoevoer te sny mits jy ‘n onmiddellike betaling in ‘n spesifieke bankrekening maak, het weer kop uitgesteek
Twee inwoners in die omgewing van Derdelaan het vanoggend boodskappe van die swendelaars ontvang.
Die munisipaliteit waarsku dat die bankrekeningnommer wat gegee word, nie ‘n bevestigde bankrekeningnommer van die munisipaliteit is nie.
Die munisipaliteit het na aanleiding hiervan verbruikers aangemoedig om munisipale rekeninge slegs te betaal via die amptelike geverifieerde betalingskanale. As jy enigsins onseker is, bevestig eers met die munisipaliteit voordat jy ‘n betaling maak.
Jy kan ook die SAPD kontak sodra iemand onder twyfelagtige omstandighede jou perseel besoek en hulle voordoen as munisipale beamptes.
Die munisipaliteit het by monde van sy woordvoerder, mnr. Steve Naale, gesê dat Rampai prokureurs wel die munisipaliteit aangestel is om te help met skuldinvordering van agterstallige munisipale dienstegelde. Mense is egter gewaarsku om eers behoorlik die identiteit na te gaan van persone wat hulle sou voordoen as verteenwoordigers van die munisipaliteit of Rampai prokureurs.
Jy kan inligting oor eise vir betaling of bankrekeningnommers vir betaling aan die munisipaliteit nagaan deur die kontaknommers op jou munisipale rekening te skakel, of die munisipaliteit se kantore in Liebenbergstrek, Parys, besoek.
Gaan altyd eers die besonderhede na wat aan jou verskaf word sou iemand jou nader vir betaling aan die munisipaliteit.
Maak skermgrepe van die boodskappe, telefoonnommers, en betalingsinstruksies wat deur swendelaars aan jou gestuur sou word en gee dit sonder versuim deur aan die munisipaltieit en die polisie.
As jy wel ‘n betaling gemaak het aan die bedrieërs, moet jy sonder versuim jou bank en die munisipaliteit daarvan in kennis stel.
Modus operandi:
Die Modus Operandi wat gewoonlik gebruik word, is ‘n WhatsApp boodskap wat aan jou gestuur word en waarin gesê word dat jou kragtoevoer onderbreek sal word weens jou agterstallige munisipale rekening. Gewoonlik word die verbruiker se adres ook op die boodskap aangedui
Daar word verder genoem dat daar vroeër gepoog is om jou te skakel sonder sukses, met net ‘n stemboodskap wat gekry is Daar word dan genoem dat die ‘amptenare’ binne twee ure by jou perseel sal wees om die kragtoevoer te sny, en dat daar iemand op die perseel moet wees om die kennisgewing dat die kragtoevoergesny is, te ontvang.
Die boodskappe wat vandag ontvang is, is gestuur van ‘n nommer wat gelys is as Head of Disconnections.




