Families, ondernemers se hartseer oor virus-reëls en tradisies
Hoe verduidelik jy vir iemand dat ’n virus ’n spoor van seer in ’n tyd van smart in hul harte sal los.

Hoe doen jy dit om mense weg te wys by ’n begrafnis? Hoe vra jy vir iemand wat die hartseer van die dood van ’n geliefde moet verwerk, of dit ’n Covid-19 geval was, want jy moet weet? Jy moet voorsorg tref vir jou personeel. Hoe ontneem jy iemand van sy tradisies omdat regulasies jou nie uitsonderings toelaat nie?
Daar is geen drukkies nie, geen blomme, geen kerse of orrelklank nie.
Dit is die vrae en realiteit waarmee ook plaaslike begrafnisondernemers sedert die staat van inperking vir die Covid-19 pandemie gekonfronteer word. Regulasies wat streng volgens wet nagekom moet word, maar hoe verduidelik jy dit vir hulle wat moet afskeid neem van iemand vir wie hulle lief is. Jy kan nie.
Die inperkingsregulasies bepaal tans dat nie meer as 50 persone ’n begrafnis mag bywoon nie. Dit sluit hulle in wat die begrafnis moet reël.
Daar mag nie ’n kerkdiens gehou word nie, want sosiale byeenkomste word nie toegelaat nie.
As jy oor provinsiegrense moet beweeg, moet jy eers ’n permit kry.
Daar is nie blomme beskikbaar nie – as jy nie in jou tuin of elders blomme kan bymekaar maak nie, is ’n plastiese ruiker al wat daar is.
Baie voel dat die regulasies ’n totale miskenning van geloofstradisies is. Geen nagwake mag gehou word nie. Familie kan nie self die liggaam was en aantrek nie. Die liggaam kan nie huis toe geneem word nie. Spyseniering moet in wegneembakkies gegee word. Geen familiemotor kan voorsien word nie. Grafte moet ver uitmekaar gegrawe word, want begrafnistye moet nou so gereël word daar daar nie te veel mense in die begraafplaas sal wees nie. Gevolglik heelwat minder begrafnisse op Saterdae as in die verlede.
En dan is daar die kwessie van sosiale afstand wat gehandhaaf moet word.
Daar is eindelose administrasie om te kontroleer watter personeel wanneer by ’n ondernemer aan diens is, hul kontakbesonderhede, gesondheidstoestand, registers wat bygehou moet word met kontakbesonderhede van mense wat by die onderneming was, asook van voorraad.. Registers van hulle wat begrafnisse bywoon en hul kontakbesonderhede, want sou daar ’n Covid-19 geval wees, moet begrafnisgangers opgespoor kan word.
Covid-19 sterfgevalle moet volgens baie streng voorskrifte hanteer word. Voorskrifte en regulasies waaroor selfs ondernemers verward is, want daar word voortdurende wysigings en aanpassings gemaak aan regulasies. Ons draai in die lug rond, sê een van die ondernemers met wie Gazette gepraat het. Dinsdag sou daar juis weer met ondernemers gepraat word oor die regulasies.
En dan is daar die koste aspek. Omdat Covid-19 sterfgevalle volgens bepaalde regulasies hanteer moet word, kan een personeellid nie ’n liggaam gaan haal nie. Minstens twee personeellede is nodig wat elk twee stelle beskermende drag sal nodig hê wanneer ’n Covid-19 liggaam gehaal word. Die koste van hierdie drag vir die twee personeellede beloop meer as R600 vir elke liggaam wat gehaal moet word. En dan moet hierdie liggame ook apart gehou word.

Personeel van André and Debsie Funeral Services wys hier hoe die beskermende drag lyk wat ondernemers se personeel sal moet dra wanneer ’n Covid-19 sterfgeval hanteer word. Foto: Verskaf.
Begrafnisondernemers moet voldoende maskers, handskoene en sanitasiemiddels hê – alles ekstra kostes waarvoor nou begroot moet word.

Daar moet by die polisiestasie aangeklop word, sou daar buite die distrik of provinsie ’n begrafnis gehou word, om die nodige permitte te kry.
Elke begrafnis moet aangemeld word by die polisiestasie sodat ook hulle wat die wet moet toepas, sal weet van elke begrafnis. Dit moet in ‘n register aangeteken word, al word papierwerk nie gestempel deur die polisie nie.
Baie begrafnisondernemers verkoop begrafnispolisse wat ’n volledige pakket insluit om voorsiening te maak vir mense se onderskeie tradisies en behoeftes, maar hoe nou gemaak met al die beperkings.
Nie almal verstaaan nie. Jy teken die vrywaringsvorm om te sê dat daar aan die regulasies voldoen sal word, maar hoe verduidelik jy vir iemand dat ’n virus ’n spoor van seer in ’n tyd van smart in hul harte sal los.
Wat ons nou ervaar is ook in die tyd van die Groot Griep-pandemie ervaar en was juis hierdie hartseer die motivering vir die stigting van Avbob 102 jaar gelede in Bloemfontein.
Die destydse skoolhoof van die Hoërskool Sentraal, en later die eerste voorsitter en uitvoerende hoof van Avbob, Oubaas van Rooijen, het in 1918, in ‘n tyd soos nou wat gekenmerk was deur geweldige armoede te midde van die pandemie, die Afrikaanse Verbond (AV) gestig. Die doel – om mense die geleentheid te gee om begrafnisse te kon hou wat hulle kon bekostig om hul geliefdes op ’n waardige manier te begrawe.
Dankie aan elke begrafnisondernemer wat uit hul pad gaan om te midde van die seer van verlies, en die wreedheid van regulasies, families help om op ’n waardige manier afskeid te neem van ’n geliefde – selfs al is dit sonder die klank van die orrel en blomme op ’n kis.





