News

Kleuterskole trek swaar met onseker toekoms

Kleuterskole trek swaar met onseker toekoms

Om op ’n dag net te hoor dat jou deure sluit terwyl huur, personeel en ander uitgawes soos elke ander maand betaal moet word, is ’n nagmerrie wat kleuterskole en dagsorgsentrums plaaslik ook sedert einde Maart in die gesig staar.

Omdat baie ouers se inkomste gesny is, of sommige selfs hul inkomste heeltemal verloor het, betaal ouers nie so getrou en stiptelik soos voorheen nie. Die hartseer is dat kleuterskole gevolglik kinders, en dus ook inkomste verloor waar ouers in hierdie tyd kennis gee.
Nog ’n hartseer werklikheid is dat daar ook kleuterskole met voedingskemas vir kleuters is. Vir baie van hierdie kinders was dit die enigste voedsame maaltyd wat hulle vir die dag sou kry. Iets wat daar nou net nie meer is nie.

Gazette het met ’n paar plaaslike kleuterskole gesels oor die uitdagings wat hulle beleef

Die impak op ons kleuterskole is katastrofies, sê Debbie van Tonder van Noag se Arkie.
“Jare lank bou ons aan Noag se Arkie se infrastruktuur en waarde vir geld om die beste sorg aan elke kleuter te gee. Elke mamma se hart se punt is ons pienkvoet woelwaters se vreugde, veiligheid en ontwikkeling. Kleuterskole het hul bestaansreg in die feit dat ons as ouers moet werk, en sover ons kan, die kleuter in die sorg plaas waar hulle geborge kan voel.”
Debbie sê met die uitbreek van Covid-19 het hulle onmiddellik die kwesbaarheid gesien en het ouers in rasse skrede kennis gegee en het betalings van skoolrekenings weggekwyn.
Die knap personeel wat met soveel passie hul roeping wil uitleef, se toegang tot versorging van kleuters is wegggeneem en ouers het noodgedwonge die alleenversorgers geword.
Die afname in betalings en die kansellasie van bywoning het hul inkomste tot so ‘n mate beïnvloed dat salarisse nie meer betaal kon word nie. “Vir die eerste keer sedert Noag se Arkie se ontstaan in 2011 het ons nie vir die personeel antwoorde nie. Personeelverminderings was onafwendbaar.” Buiten die betalings van salarisse, is die betaling van huur, water en sekuriteit deurlopend.
Sy sê die feit dat Noag se Arkie op 6 Julie kan heropen aangesien dit deel is van Parys Christelike Skool, is `n ligpunt. Die kwessie van wanneer private kleuterskole kan heropen wat nie deel van `n laerskool is nie, is egter nog nie uitgeklaar nie, omdat daar op die uitkoms van ’n hofbeslissing gewag word.

Debbie sê voorsorgmaatreëls is reeds getref met sanitering- en voorkomingsmaatreëls vir distansiëring om hul kleuters veilig te hou en veilig huis toe te stuur. “Ons kapasiteit sal verminder aangesien ons slegs ongeveer 60-70 kleuters veilig sal kan akkommodeer. Spesiale verlaagde fooie sal ook vanaf Julie aangebied word om ouers te help.
“Baie ouers het ook die keuse gemaak om kleuters eers tuis te versorg, maar dit is nie vir alle ouers haalbaar nie. Noag se Arkie sal uit hul pad gaan om `n veilige hawe te wees waar ouers gemoedsrus kan hê vir die welstand van kleuters terwyl hul by die werk is. Die CAPS-kurrikulum wat ons volg vir ons maats wat volgende jaar Graad R toe moet gaan, is vir ons van kardinale belang ter voorbereiding van die groot mylpaal in ons kinders se skoolloopbaan.”

Blikoortjies-kleuterskool wat ’n nie-winsgewende organisasie is, is ook 100% afhanklik van skoolfonds en fondsinsamelingsprojekte wat tans nog nie gedoen kan word nie.
“Die krisis raak ons dieper as wat enigiemand kan dink. Die departement self kan steeds nie besluit wanneer kleuterskole mag oopmaak nie. Ons het opgewonde geraak oor 6 Julie, net om te hoor dit sluit nie private instansies in nie. “Ons bid vir spoedige opening,” sê skoolhoof, Magriet van Niekerk.
Die skool is reeds besig om alles in plek te kry met die nodige maatreëls wat van skole verwag word as standaard vir die nuwe ‘normaal’, sê sy.
Tog is dit duidelik dat ouers gemengde gevoelens het rondom die terugstuur van kleuters skool toe. Tuisbly mammas sal bes moontlik verkies om eers weer in 2021 hul kleuters skool toe te stuur, meen Magriet, en sê dat sulke besluite gerespekteer word. Maar aan die ander kant sit werkende ouers met ’n groot probleem met alternatiewe reëlings wat vir hul kleuters se versorging getref moet word, terwyl kleuterskole steeds betaal moet word.
Oor planne om te oorleef sê Magriet dat die skool ’n hele klomp fondsinsamelingsidees en projekte aan die begin van die jaar op die tafel gesit het en steeds opgewonde is om dit uit te voer. Sou hulle kan oopmaak, is daar steeds die moontlikheid om die knoop deur te haak vir dié projekte.
“‘n Kleuterskool het net soos al die ‘groot’ skole ‘n sillabus waarvolgens daar gewerk word en elke ouderdomsgroep het sekere mylpale wat hy/sy moet behaal teen ‘n sekere tyd, voordat
hulle bevorder kan word en dis waarvoor ons daar is,” sê Magriet.

“Met die inperking gee ons steeds weekliks per klassie die werk deur sodat ons kinders nie agter raak nie, en belowe om sodra ons kan oopmaak, slaggereed te wees op alle vlakke. Ons stel nog altyd ons kinders se behoeftes en veiligheid eerste en beloof om steeds net te doen wat tot voordeel van hulle is.”
Anneli du Toit, eienaar van Bumble Tots Montessori sê ook dat met die aankondiging van die nasionale staat van inperking het die skool dadelik begin om video’s vir ouers te stuur om die kleuters besig en gestimuleerd te hou met aktiwiteite met die Montessori apparaat waarvan die skool gebruik maak. Daarbenewens is daar ook weekliks ’n video van ’n kunsaktiwiteit, en van die Einstein Hands-program wat gedeel word.
Skoolgeld is onmiddellik verlaag en sy sê dat die skool dankbaar is vir ouers wat steeds getrou betaal. Hoewel daar ook ouers is wat nie meer kan betaal nie, en ouers wat aangedui het dat hulle voorlopig nie hul kleuters gaan terugstuur skool toe nie, is sy positief met ouers wat steeds weekliks kontak maak en belangstel om weer hul kleuters te laat skoolgaan.
“Maar dit maak nie saak hoe graag kleuterskole wil open nie, tans lyk dit of net skole wat by die departement van onderwys geregistreer is, op 6 Julie sal kan open,” sê sy.
Anneli sê ook dat dit veral werkende ouers is wat ’n groot krisis beleef met die versorging van hul kleuters.

Besige Bytjie beplan om volgens die departement van onderwys se skoolkalender wel op 6 Julie weer hul deure oop te maak vir kleuters. Die enkele kleuters wat meer vatbaar is vir die virus sal egter weekliks die werk kry om van die huis af te doen.
Tog beteken dit steeds dat kleuterskole soos ander ondernemings in die Vroeë Kinderontwikkeling sektor, tot en met 6 Julie al 3 en ’n half maande sonder werk en inkomste is. Hoewel werkloosheidsversekeringseise in sommige gevalle verligting bring, is dit ’n stryd om aansoek te doen en word nie alle eise onmiddellik uitbetaal nie, sê Maryna. Gelukkig vir sommige personeel kon tydelike werk elders gekry word.

Ook by Bambi Preprimary School het “korona soos ‘n onsigbare duwweltjie aan ons wêreld, ons kinders en ons juffrouens kom klou. Op 18 Maart het ons skole gesluit en kon ons nooit droom dat ons lewens so sou verander nie,” sê Annetjie Raubenheimer. Die skool gebruik ook Zoom en Whatsapp platforms om die werk vir die kleuters deur te gee. Maar verby is die dae vir kleuterskole waar kleuters in kringetjies op die mat kon sit, en ’n kryt of ‘n kwassie met maatjies maatjies gedeel kon word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button