
‘n Graad-8 leerling het ‘n noue ontkoming gehad toe hy Donderdag, 8 Oktober in Molenstraat voor Hoërskool Gimnasium Potchefstroom amper ontvoer was.
“Ek het aan die oorkant van die pad onder die boom gaan sit en wag en was nie juis bekommerd nie, want ek weet my ma los haar selfoon by die huis wanneer sy inkopies doen. Ek het teen my tas gesit en was besig op my selfoon terwyl ek die verkeer en die omgewing om my dopgehou het”, vertel hy. Hy het gemerk dat daar ‘n wit Mercedes afleweringsvoertuig verder weg geparkeer was en toe die laaste voertuig omstreeks 14:15 voor die skool ry, die afleweringsvoertuig na hom toe aangery gekom het.
“Die voertuig het ‘n skuifdeur gehad en nie vensters aan die agterste deel nie, sê hy. Die bestuurder het stadiger gery en ‘n pak skyfies na my toe uitgehou en vir my gevra: “Do you want?” Die seun vertel dat hy dadelik opgestaan het toe die voertuig nader gekom het. Hy het net die man aangekyk, maar niks gesê nie. “Toe die man die derde keer vir my dieselfde vraag vra, het ek agteruit begin loop. Die man het toe die voertuig se deur oopgemaak om uit te klim, maar iets moes sy aandag afgetrek het, want hy het skielik weer sy deur toegemaak en verder aangery. “Ek het vreeslik groot geskrik en was baie verlig toe ‘n polisievoertuig ‘n rukkie later aangery gekom het”, vertel hy. Hy het in die pad gaan staan en die polisievoertuig gestop en aan die polisie vertel wat gebeur het. Hulle het by hom gebly totdat sy oom hom kom haal het. Hy onthou dat die voertuig ‘n Gauteng-provinsie registrasie gehad het.





