Vanjaar is dit die 183ste keer sedert die Gelofte op 16 Desember 1838 afgelê is en daar is Afrikaners wat steeds Geloftedag wil vier – hetsy met ‘n gedenkdiens in ‘n kerk of ‘n uitstappie wat meer seremonieël van aard is.
Vanjaar is dit die 183ste keer sedertdie Gelofte op 16 Desember 1838 afgelê is. Met Geloftefeeste en kerkdienste wat in al nege provinsies aangebied word, blyk dit dat Afrikaners ‘n groeiende behoefte het aan die vier van Geloftedag. Sedert 2011 reik Ditsem Blits ‘n uitgebreide kalender uit waar hulle aandui waar Geloftefeeste oral aangebied word. Dié kalender dui vanjaar aan dat daar ‘n rekordgetal van 182 feeste in al nege provinsies en in die buiteland aangebied word. Afrikaners in die buiteland vier Geloftedag in Australië (Brisbane en Perth), Namibië (Stampriet en Windhoek), Nieu-Zeeland (Christchurch en Tauranga) en die VSA (South Carolina en Irivne, Californië).
Volgens Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, is Geloftedag vir die Afrikaners waarskynlik die eerste belangrikste historiese dag wat voor Stigtingsdag of selfs Krugerdag herdenk is. “Vir die Afrikaners is dit ‘n dag en tradisie wat oor bykans twee eeue gevorm is. “Ons leer toekomslesse daaruit, maar vind ook bevestiging van ons identiteit, plek en inspirasie uit verhale van ons verlede”, het Langer aan Maroelamedia gesê. Vir hom bevestig die dag dat ons anker en afhanklikheid in die Here lê. “Dit is in hierdie konteks waarin die steeds groeiende nuwe Geloftekomitees en ondersteuning van Geloftedag verstaan moet word”, sê Langner.
Geloftefeesdienste in en om Parys
Moedergemeente, Parys
’n Geloftediens sal Donderdag, 16 Desember, by die NG Moedergemeente in Parys gehou word. Voortrekkers van Parys Voortrekkerkommando sal om 09:15 die oggend ‘n kranslegging by die monument op die kerkterrein doen, waarna die feesrede en erediens gelei word deur ds. Fanie le Roux. Almal welkom.
* Geloftefeesvieringe word ook Donderdag, 16 Desember, by die Suikerbosrand Natuurreservaat naby Heidelberg gehou. Verrigtinge begin om 10:15. Die erediens word gelei deur ds. Simon Hibbert van die Gereformeerde Kerk Koster.





