Sensus 2022: Tyd raak min vir aanlyn registrasie
Sensus 2022: Tyd raak min vir aanlyn registrasie
As jy verkies om aanlyn deel te neem aan die Sensusopname vir 2022, het jy nog net tyd tot 5 Februarie om te registreer vir aanlyn-deelname. Registreer by getcounted.statssa.gov.za Die nasionale sensus het vandag Woensdag 2 Februarie, afgeskop en sal duur tot 28 Februarie
Die sensus sou in 2021 gedoen word, maar moes weens die Covid-19 pandemie uitgestel word. Dit is die land se vierde sensus sedert demokrasie.
Wat behels ‘n sensus?
‘n Sensus is ‘n nasionale proses waartydens almal in die land getel word om die bevolkingsgrootte te bepaal. Dit help ‘n land met sy medium en langtermyn beplanning vir die behoefte bepaling vir byvoorbeeld skole, hospitale ensovoorts. Bevolkingsgrootte het ook ‘n direkte invloed op begrotings.
Wie word getel?
Almal in die land sal getel word of jy ‘n Suid-Afrikaanse burger is aldan nie, wettig of onwettig in die land is aldan nie – almal moet getel word.
Hoe neem jy deel aan die sensus?
- Jy kan aanlyn deelneem deur voor 5 Februarie te registreer by getcounted.statssa.gov.za
- Amptenare van Statistiek Suid-Afrika sal mense kontak om hul inligting te kry en kan jy dus so telefonies deelneem aan die opname.
- Sowat 165 000 veldwerkers word uitgestuur wat van huis tot huis sal beweeg en inligting insamel.
Hoe ken jy sensus-veldwerkers uit?
Velwerkers sal ‘n groen hemp dra met ‘n swart hoed.
Hulle sal ‘n SSA (Statistiek Suid-Afrika) dentifikasiedokument by hulle hê met ‘n unieke nommer daarop.
Jy kan op die SSA-webtuiste of by SSA se inbelsentrum hierdie unieke nommer verifieer voordat jy iemand in jou huis toelaat sou jy kommer hê oor die persoon wat jou sou nader.
- In 2011 was die land se bevolkingtal volgens die sensusopname 51 770 569.




