Parys spog al die afgelope 11 jaar met sy eie private biblioteek waar mense wat lief is vir lees, kan kies uit ‘n baie wye verskeidenheid van boeke van alle genres, en tydskrifte wat uitgeneem kan word by Die Kultuurkamer met sy besondere en unieke karakter wat deesdae spog met ‘n splinternuwe baadjie. Dié biblioteek maak weer amptelik sy deure oop op Saterdag 5 Maart by Buitenstraat 46.

Boekliefhebbers sal onthou dat Die Kultuurkamer sedert 2016 ‘n tuiste in die ou kerkie by die Fredericksgebou in Waterstraat gehad het. Die afgelope maand is daar hard gewerk met die trekkery en kan lesers uitsien na ‘n selfs nog meer besondere leeservaring by die huis van Lucia Gericke wat in 2011 die inisiatief geneem het vir die opening van die private biblioteek. Die Kultuurkamer bied boeke vir oud en jonk in beide Afrikaans en Engels, Maak gerus ‘n draai daar Saterdag tussen 10:00 en 15:00- of jy reeds lid is of wil aansluit – bring die kinders saam en kom ontdek die genot van lees. Heerlike eetgoed sal te koop wees en daar is gratis drinkgoed.



