“Hulle sê net die ‘sisteem’ sê die polisie het my lisensieskyfie verwyder, en dis al.”
“Amptenare het my kwaai vertel dat die polisie my voertuiglisensie by ‘n padblokkade afgevat het, so ek moet my kar na die toetsgronde in Vereeniging neem vir ‘n hertoets. Hulle sê net die ‘sisteem’ sê die polisie het my lisensieskyfie verwyder, en dis al. Dit is die grootste leuen onder die son. Geen bewys nie, geen brief nie, niks. En jy kan maar enigiets probeer. Hulle weier net om die lisensie uit te reik,” sê Louise. ‘n Mens kan dié raakvatter-vrou min vertel oor voertuie en voertuiglisensiëring aangesien sy en haar man reeds dekades lank verbonde is aan ‘n gerespekteerde familiesaak wat in voertuigherstelwerk spesialiseer. Louise sê daar was beslis geen voorval waar haar voertuiglisensie weggevat is nie en haar lisensieskyfie was inderdaad nog steeds op haar windskerm. Sy ry toe nietemin na Vereeniging se toetsterrein en staan ‘n uur in die ry, net om te hoor dat hulle slegs 15 voertuie per dag toets en dat niemand haar dié dag gaan help nie.
Douvoordag die volgende oggend was sy terug in Vereeniging en hoor toe sy moet betaal om haar voertuig weer deur die toets te sit. “Ek wys toe vir die meneer die lisensieskyfie is nog op die windskerm, maar hy stel nie belang nie… R250 en ‘n toets later kon ek weer my lisensie kry,” sê sy.






