

Die AfriForum-tak in Heilbron het verlede week met ‘n skoonmaakprojek in Langmarkstraat in die dorp begin. Ten spyte van die reёn en gure weer het heelwat mense uit die gemeenskap, asook leerders van die plaaslike skool kom hand bysit om ‘n verskil in hul dorp te maak.
Selfs die hoof van die korrektiewe sentrum het ‘n span gebring wat hard gewerk het. Toerusting vir die skoonmaakprojek is deur die gemeenskap geskenk of geleen sodat die gras gesny, en vullis opgetel kon word. Alhoewel die projek nog nie voltooi is nie, is ‘n groot verskil reeds gemaak.
“Net ons kan iets aan die dorp se agteruitgang doen. Geen ouer kan toesien dat sy kinders so grootword en die gehawende omstandighede van die dorp as normaal beskou nie,” sê Gerrie Muller, voorsitter van die Heilbron-tak. Hy het elkeen wat bygedra het tot die inisiatief, veral die borge, bedank.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, was dit goed om te sien hoe die gemeenskap hande vat om hul dorp weer na iets te laat lyk – nie eers die reën kon hulle stuit nie. Sy het gesê dat dit veral bemoedigend was om te sien hoeveel kinders gehelp het.



Sy het die gemeenskap aangemoedig om by die AfriForum-tak betrokke te raak deur ‘n SMS te stuur met die woord “Heilbron” na 45344 (R1 per SMS).
* Gazette het verlede week ook berig oor die gemeenskap van Vredefort wat saam met die organiseerders van Die Kruistog, ‘n samewerkingsooreenkoms met die Ngwathe munisipaliteit aangegaan het, en só ‘n groot verskil in die dorp gemaak het. Vullis is weggery, gras gesny, bome gesnoei, die sportgronde netjies gemaak, verfwerk gedoen en strate skoongemaak ter voorbereiding van die Paasnaweek se roete wat vir Die Kruistog in die dorp gestap sal word.
* Ook in Parys het sakelui en inwoners in Allenbystraat onlangs saamgewerk om die sypaadjie gras te sny, skoon te maak en slaggate reg te maak.





