

Drie vermeende koperdiewe van Zimbabwe en Malawi is ná skitterende samewerking tussen lede van die polisie, sekuriteitsmaatskappye en boere in die Heilbron-omgewing vasgetrek.
Daar is met die arrestasie beslag gelê op 39 bondels koperkabel, gereedskap en ‘n Ford Ranger wat deur die verdagtes gebruik is.
Die mans sou op klagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en peuter met noodsaaklike infrastruktuur in die landdroshof in Frankfort verskyn.
Die arrestasie het gevolg nadat lede van die Heilbron-polisie in kennis gestel is van ‘n verdagte voertuig op wie se spoor Basopa sekuriteitsbeamptes was. Die verdagtes het met ‘n Ford Ranger op die R34 van Frankfort na Heilbron beweeg, en deur ‘n padblokkade gejaag wat opgestel is om die voertuig voor te keer.
‘n Ent verder het die verdagtes langs die pad gestop en in die mielielande in gevlug. Hulle het egter nie rekening gehou met die gedugte spanwerk van polisielede, die sekuriteitsbeamptes, en boere van die omgewing nie. Drie van die vier verdagtes is gearresteer. Hulle is onderskeidelik 29, 32 en 50 jaar oud, sê kapt. Malebo Khosana, polisiewoordvoerder in die Fezile Dabi-distrik.
Maj-genl Moses Makubo, distrikskommissaris van die polisie in die Fezile Dabi-distrik het die polisielede, sekuriteitsbeamptes en die boere geloof vir die samewerking. Hy het gesê dat dit weer eens bewys dat daar saam ‘n verskil gemaak kan word om kriminele van die straat af en uit gemeenskappe te verwyder.





