News

Time to March: Gemeenskap wil saam hul stem laat hoor oor munisipale bestuur, diens

Protesoptog môre gehou

Sanco (South African National Civic Organisation) hou môre ‘n georganiseerde optog van Tumahole na Parys met die uitsluitlike doel om deursigtigheid, verantwoordelikheid en dienslewering van die Ngwathe munsipaliteit te eis, en aan te dring dat IDP fondse plaaslik spandeer moet word.

Die optog is daarop gemik om druk op die hele munisipale leierskap en die Ngwathe raad te plaas, sê die organiseerders.

Die optog begin om 08:30 vanaf die Master Nakedi Sportsentrum in Tumahole, vanwaar dit oor die brug by die provinsiale verkeerskantoor na die dorp sal beweeg om dan via Father Balinkstraat na die munisipale kantore te gaan waar ‘n memorandum  oorhandig sal word. Die optoggangers behoort tussen 09:30 en 10:30 in die dorp te wees.

Die optog is wettig en word met die nodige toestemming gehou.

Lede van die polisie, CSS, Parys Sekuriteit, Security Master en WeCare asook Overcomers sal ‘n wakende oog hou om seker te maak dat die optog binne die wet, veilig en volgens die ooreengekome regulasies sal gebeur.

Van die kwessies wat in die memorandum uitgelig word, sluit in:

  • Die gemeenskap wil sien dat die totale IDP-begroting plaaslik spandeer word tot voordeel van plaaslike besighede en werkskepping,
  • Hulle wil sien dat ten minste 1 000 jongmense van alle rasse moet voordeel trek uit opleiding en internskapprogramme sodat hul kennis en vaardighede plaaslik aangewend kan word om ook hul geleentheid tot ervaring en verantwoordelikheid te gee.
  • Watervoorsiening, riolering en elektrisiteitskwessies moet reggestel, en paaie reggemaak word met verantwoordelike spandering van geallokeerde en beskikbare fondse. Daar word spesifiek ook verwys na die JoJo watertenks wat opgesit is as tydelike uitkoms vir die dorp se waternood, maar nou ‘n permanente oplossing geword het.
  • Daar ‘n einde moet kom aan ”verdagte” tenders  en kontrakte, waar sperdatums gemis en buitensporige fakture gelewer word. Tenderprosesse moet deursigtig wees.
  • Daar word verwys na beloftes vir die toekenning van persele vir lede van die gemeenskap, kerke en nie-winsgewende organisasies wat soms langer as as 2 jaar vat.
  • ‘n Munisipale bestuurder moet aangestel word met die nodige kennis en ervaring sonder familie- of vriendskapsbande met  iemand by Ngwathe, of wat besigheidsvoordele uit die posisie sal kry.
  • Die munisipale verkeersdepartement moet heringestel word om bywette af te dwing.
  • Die aanstel van vaardige en gekwalifiseerde mense wat sal omsien na die jeug, sport en die belange van gestremdes in die gemeenskap.
  • Meer permanente werkskeppingsgeleenthede vir mense uit die gemeenskap, pleks van net werksgeleenthede vir die duur van projekte
  • Daar moet opgetree word teen dwelmhandelaars en onwettige tavernes in die gemeenskap want dit raak ons jeug.
Sanco sê dat daar met die beplande optog hande gevat word in ‘n diverse gemeenskap sodat mense  verenig sal wees in kwessies wat ‘n hele gemeenskap raak. Dit is ‘n vreedsame optog
Nie ‘n optog van woede nie, maar ‘n optog waar mense saam hul stem van protes kan laat hoor oor dinge wat ‘n hele gemeenskap frustreer en bekommer, is gesê.
Mense kan op enige punt by die optog aansluit, maar onthou dat dit ‘n vreedsame optog is om ‘n memorandum te oorhandig en so druk te plaas op munisipale bestuur om dienslewering aan die gemeenskap te  verbeter. 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button