News

Verdagte dood langs R59 gekry ná moord op man

Kort nadat die polisie in Parys Vrydagmiddag (9 September) ontbied is na ‘n moordtoneel in die dorp, is die man wat voldoen het aan die beskrywing van die verdagte  op die moordtoneel, se liggaam langs die R59 net buite Parys gekry. By hom is ‘n 7.65 pistool en van die eiendom wat op die moordtoneel …

Kort nadat die polisie in Parys Vrydagmiddag (9 September) ontbied is na ‘n moordtoneel in die dorp, is die man wat voldoen het aan die beskrywing van die verdagte  op die moordtoneel, se liggaam langs die R59 net buite Parys gekry.

By hom is ‘n 7.65 pistool en van die eiendom wat op die moordtoneel gesteel is gekry, het sers. Josephine Rani, polisiewoordvoerder in die Fezile Dabi-distrik gesê.

Sers. Rani sê lede van die Speurdiens is omstreek 14:30 na ‘n toneel in ‘n oop veld agter die Parys Distrik-hospitaal waar ‘n skietvoorval gerapporteer is. Met hul aankoms op die toneel het die polisielede die liggaam van ‘n man op die agtersitplek van die voertuig gekry. Hy het ‘n skietwond in die kop gehad en is deur nooddienste op die toneel dood verklaar.

Sers. Rani sê by nadere ondersoek is gevind dat die oorledene na bewering saam met ‘n vriendin in die motor was, toe ‘n onbekende man met ‘n klapmus skiellik na die voertuig toe gekom het, en die man geskiet het. Die vrou se hande is met skoenveters vasgebind en het die  moordenaar met haar selfoon, die oorledene se beursie en sy skoene te voet van die toneel gevlug.

Die polisie het dadelik ‘n soektog na die verdagte begin.

Sowat ‘n uur later is  ‘n skietvoorval op die R59 gerapporteer.

Polisielede het die man wie se beskrywing ooreengestem het met dié van die verdagte wat vroeër op die moordtoneel gesien is, langs die R59 opgemerk. Daar is probeer om hom te kry om te stop, maar het hy  skote na die polisie geskiet wat toe teruggeskiet het.

Oomblikke later, toe dit stil geraak het,  het die polisie die man wat in sy dertigs was, met ‘n skietwond in die kop langs die R59 gekry. Hy is op die toneel dood verklaar. Die polisie het beslag gelê op die vuurwapen en die gesteelde eiendom wat op die toneel gekry is.

Die polisie se onafhanklike ondersoek direktoraat ondersoek die voorval het sers. Rani gesê

Related Articles

Back to top button