
Die 24 karre van lede van die Nuts and Bolts Rally wat Donderdag, 14 September in Parys weggespring het vir hul trippie na De Aar, het Saterdag 16 September veilig hul bestemming bereik.
Die ‘jolly ride’ het gesorg vir baie pret met heelwat Parysenaars wat vanjaar ook saamgery het. Tinus en Wilma Jacobs het hul trok op Ventersburg gelos, en het dié twee ‘ge-uber’ saam met Brian J.v. Rensburg en Hertzog Prinsloo in hul pre 1990 Mercedes.
Die groen F150 het op pad terug net voor Jacobsdal halt geroep, maar daarvoor is vrinne mos daar. Waldo Prins het help sleep tot in Bloemfontein.
Dit is wat ‘n trip soos dié, een vir die boeke maak. Die mense wat saamgery het- so kleurvol soos die karre wat jy op so ‘n rally kry.
Vergeet van Paris na Dacar – wag tot jy die wind deur jou hare voel as jy die lang pad vat van Parys na De Aar.
Toe daar net na 09:00 weggetrek is uit Parys met die pre 1990-modelle, is daar eers in Parys saamgetrek voor Ietsie mooi by Parys se eie Eiffel-toring in die kleine. En toe ‘n foto saam met die helderrooi Droomvrou manekyne. Al die Rally-lede gedress van Meksikaans tot Frans, want as jy ‘n Nuts & Bolts Rally ry, het pret nie brieke nie.
‘n Speedcop of twee langs die pad, en ‘n Fransman onder ‘n Volla om iewers langs die pad iets te fix, is deel van die memories wat gemaak word op so ‘n trip terwyl jy ry na jou Karoo Kooi of ‘n vinnige stop by Truksvy.

Die Parys na De Aar Rally is die 33ste Rally wat hulle ry vandat ‘n klompie vriende in 2014 die eerste keer hul ou meesters op die pad gevat het. Vriende het vriende genooi en net die volgende jaar was hulle 38 wat saam gery het.
Nadat die toeters vrolik Parys gegroet het, is daar Donderdag gery tot by Boskoppie Leeuplaas in Kroonstad. Vandaar dan na Aldam om uiteindelik Saterdag die enjins stil te maak voor die Sonder Sorge Ouetehuis in De Aar.
Want sien – Nuts & Bolts Rally glo aan terug gee aan die gemeenskap. “Pay it forward” verduidelik organiseerder, Pieter Andersen, my. Vier en twintig sakkies lekkergoed sal daar by die bejaardes van Sonder Sorge tehuis uitgedeel word, sê hy. Met elke Rally wat hul ry, is daar ‘n gemeenskapsorganisasie na wie daar uitgereik word.
Elke jaar ry hulle 3 of 4 rallys – aan die Weskus, die Tuinroete en Noord-Kaap se kant toe. As jy gelukkig genoeg is om die trotse eienaar van ‘n pre-1990 motor te wees en ‘n gees vir avontuur het, is dié Nuts & Bolts Rallys vir jou!
Die Parysenaars wat saamgery het was naas Brian J.v. Rensburg, Hertzog Prinsloo en Tinus en Wilma Jacobs ook Waldo Prins, en Tommy en Chrizelle van Tonder.
Meer oor Nuts & Bolts Rally by info@nutsandboltsrally.co.za of gaan kyk na www.nutsandboltsrally.co.za