Minder gevalle van moord in VS, maar seksuele aanranding neem toe
Hoewel 'n groot verbetering gesien is in die misdaad wat bekamp kon word weens polisie optrede, is die aantal Suid-Afrikaners wat blootgestel word aan misdaad, steeds onaanvaarbaar hoog, sé die DA

Die Vrystaat provinsie het vir die tydperk Julie tot September vanjaar ‘n 32,7% styging in gevalle van seksuele aanranding gehad, in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar.
Die syfer is deel van die misdaadstatistiek wat vandag deur polisie minister Senzo Mchunu aangekondig is, en skets ‘n kommerwekkende realiteit teen die agtergrond van die 16 Dae Aktivisme veldtog teen Geweld teen Vroue en kinders wat vandag afgeskop het.
Die DA het vandag in antwoord op die statistiek gesê dat die provinsie en die Suid-Afrikaanse bevolking in die algemeen ‘n krisis met geslagsgebaseerde misdaad en misdaad teen vroue en kinders in die gesig staar. Die DA vra in sy verklaring dat meer gedoen moet word om slagoffers van geslagsgebaseerde misdaad te beskerm, en stel wetgewing hiervoor voor.
Gevalle van moord het wel met 18,6% in die Vrystaat afgeneem, terwyl gevalle van poging tot moord in dié tydperk gestyg het met 14,9%. Roof by residensiële wonings het met 6% toegeneem.
Hoewel ‘n groot verbetering gesien is in die misdaad wat bekamp kon word weens polisie optrede, is die aantal Suid-Afrikaners wat blootgestel word aan misdaad, steeds onaanvaarbaar hoog, sé die DA en voeg by dat die werk nie voltooi is voordat elke inwoner in die Vrystaat nie veilig kan voel in hul huise en gemeenskappe nie.



