Local newsNews

‘As jy net 10 beeste het, moet dit die beste 10 wees.’

Thian Heyns glo daar is geleenthede in landbou en dat jongboere belangrik is vir die toekoms van landbou in Suid-Afrika.

Thian Heyns, ’n trotse vierde generasie boer van Bellevue in Clocolan, Oos-Vrystaat, is een van TLU SA se drie finaliste vir vanjaar se Jongboer van die Jaar.

Thian het van kleins af ’n passie vir die plaaslewe, en sien hy dit as sy roeping om die nalatenskap voort te sit en die plaas te bewaar en te verbeter vir toekomstige geslagte.

Sy boerdery is ’n gebalanseerde onderneming wat hoofsaaklik bestaan uit kommersiële en stoet Sussex-beeste sowel as die verbouing van mielies, soja, sonneblom en koring. Volgens Thian is die sukses van sy boerdery te danke aan sy strategiese diversifikasie wat ’n gesonde balans tussen vee en saaiery verseker.

Hy bestuur die plaas op eie houtjie en is verantwoordelik vir elke aspek van die boerdery, van beplanning tot uitvoer. Die intensiewe sorg wat die vee nodig het, kombineer hy met ’n seisoenale benadering tot die saaiery om die produktiwiteit en doeltreffendheid te maksimeer.

Maklik was dit nie altyd nie, vertel hy. “Ek het al heelwat uitdagings gehad vandat ek boer, maar probeer elke uitdaging sien as ‘n nuwe geleentheid. My grootste uitdaging was dat ek die boerdery met baie min toerusting moes ophou. Ek het in 2019 my eerste paar beeste gekoop, en van daar af het die boerdery met tyd gegroei. Ek het eers gefokus daarop om die beeskudde groot genoeg te kry om van daar af weer in staat te kon wees om beter toerusting en trekkers te koop, sodat ek die saaiery op die been kon bring.”

Thian se benadering tot boerdery is gekenmerk deur ’n fokus op kwaliteit bo kwantiteit. “As jy net tien beeste het, moet dit die beste tien wees,” vertel hy. Met ’n beperkte aantal diere moes hy streng seleksie toepas om slegs die beste beeste in sy kudde te hê. Hierdie geduldige en gestruktureerde werksetiek maak sy boerdery uniek en effektief.

Thian Heyns, een van die finaliste vir TLU SA se Jongboer van die Jaar-toekenning.

Hoewel hy konserwatief in sy metodes is en voortbou op wat vir hom werk,  is hy oop vir tegnologiese innovasie wat sy boerdery kan verbeter. Hy maak gebruik van beskikbare tegnologie om produktiwiteit te verhoog.

As ’n jong boer met ’n sterk familie-erfenis voel Thian ’n groot verantwoordelikheid om ’n positiewe voorbeeld te stel. “Alhoewel ek die vierde generasie op Bellevue is, het nie almal voor my aktief geboer nie. My pa het die grond verhuur, en ek het die boerdery van voor af begin. Ek wil baie graag my beesboerdery en stoetery nog uitbrei en verbeter, veral in genetika en die teling van goeie, korrekte diere. Daar is altyd plek vir verbetering en mens moet nie stagneer nie. Ek streef daarna om die boerdery goed te balanseer met al die fasette en sodoende effektief, produktief en ook ekonomies volhoubaar te boer. Ek wil iets nalaat waarop daar verder gebou kan word, ’n boerdery vir die toekoms en nie net vir vandag nie.”

Om ’n finalis in die TLU Jongboerkompetisie te wees, beskou hy as ’n eer en ’n kans om ander jongmense te inspireer om hul drome na te jaag, selfs al begin hulle klein.

“Ek glo dat die landbou in Suid-Afrika vol geleenthede is. Ons het fantasiese boere en ongelooflik baie kennis van landbou in ons land. Ons het jongboere nodig om die landbou se toekoms te wees. Daar is geleenthede, maar ons moet ook geleenthede skep om die toekoms van landbou en veral boerderye te verseker,” sê hy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button