Terug op die skoolbanke ná 20 jaar
Die groep matriekmaats en van hul onderwysers het by hul alma mater bymekaar gekom en was daar baie staaltjies en humor wat gedeel is.
Hulle was ‘n eiesoortige matriekgroep. Die groep wat ‘n geel atletiekspan in plaas van die gebruiklike rooi en blou spanne wou hê. n Groep wat kon spog met ‘n 100% slaagsyfer. Hul eerste rugbyspan het gelykop gespeel in die Beeld-trofee finaal vir Klein Skole, en vier van hul Voortrekkers het Presidentverkennerstoekennings ontvang.
Daar was ‘n silwer ATKV-toekening vir toneelspel met die toneelstuk wat deur Andra Nel (Ferreira) geskryf is, en skitterende muurbalprestasies met Tenille van der Merwe (Swartz) en Mary-Ann Pretorius (Boden) wat die Top Skole-toernooi gewen het.
Verlede naweek was Hoërskool Parys se 2005-matriekklas terug op die skoolbanke vir dié klas se 20 jaar reünie met vele herinneringe en staaltjies uit hul skooldae.
Daar is tot laat gekuier saam met hul destydse skoolhoof, mnr. Lucien van Zyl en van hul oudonderwysers. Onder hulle mnr. Herman Malan (Biologie en eerste span rugby-afrigter), mev. Izelle van Heerden (wiskunde), mev Carin Burger (wiskunde), mev. Ezilda Fouche (Afrikaans) en mev. Marli Kruger (Engels).
Die groep het mekaar die laaste keer met hul tien jaar reünie by Udolpho gesien.
Die groep se hoofseun, Morkel Pienaar, het vertel dat die meerderheid van die groep beroepe in die finansiële bedryf gevolg het – van rekenmeesters tot ouditeure. Andrea Dednam (Greyling), wat ook die enigste onderwyser in die groep is, hou skool by hul alma mater.


Daar is heelwat van die groep wat in die buiteland werk waaronder Tino Passano wat as sjef in Engeland, Italië en Nieu Zeeland sy merk gemaak het.

Die 2005-klas het 77 matrikulante gehad waarvan drie van hul matriekmaats, Adelaine van Zyl, Cecile de Milander (Coetzee) wat ook die groep se hoofmeisie was, en Jadwiga Zabielski sedertdien oorlede is.



