Wat gebeur met jou motor by die paneelklopper
Elke stadium – van inspeksie en kwotasie, tot die gebruik van oorspronklike onderdele, die laaste blink poets en wielsporing – is daar om te verseker dat jou motor nie net weer soos nuut lyk nie, maar ook veilig en padwaardig is.
As jy al ooit in ’n motorongeluk was, weet jy dat herstelwerk by ‘n paneelklopper soms tyd neem. Maar wat gebeur regtig agter daardie werkswinkeldeure? Die Suid-Afrikaanse Motorpaneelherstellersvereniging verduidelik stap vir stap die proses – en hoekom dit soms ’n langer neem.
Nie-strukturele vs. strukturele skade
Volgens Juan Hanekom, Nasionale Direkteur van SAMBRA, word skade oor die algemeen in twee kategorieë verdeel:
-
Nie-strukturele herstelwerk sluit dele soos deure, vlerke, buffers en panele in – kosmetiese skade wat nie die raam of onderbou van die motor beïnvloed nie. Hierdie dele kan herstel of vervang word.
-
Strukturele herstelwerk is meer kompleks en behels die onderstel of raamwerk van die voertuig. Dit verg dikwels sny en sweiswerk met gespesialiseerde toerusting.
Die erns van die skade bepaal uiteindelik die kompleksiteit van die herstelwerk. “Soms lyk skade erg, maar dit is eintlik gering – en andersom,” sê Hanekom. “Daarom is dit belangrik dat gekwalifiseerde professionele persone die skade deeglik assesseer en die nodige werk bepaal.
Die rol van die versekeraar
Wanneer ’n ongeluk gebeur, vra die versekeraar ’n kwotasie aan. Die onderneming wat die skade moet herstel, ondersoek die motor, neem foto’s, en stel ’n beraming van die herstelwerk op. Hierdie kwotasie word met die versekeraar se assessor bespreek, en eers na goedkeuring kan die werk begin.
“Dit is belangrik om te onthou dat die versekeraar jou terug moet plaas in die posisie waarin jy voor die ongeluk was. Dit beteken net die noodsaaklike skade sal herstel word – nie enige vooraf bestaande skade nie,” verduidelik Hanekom.
Die werklike herstelproses
Wanneer die motor ingeboek word, word dit deeglik geïnspekteer. Tegnici stroop die beskadigde areas af om versteekte skade op te spoor. Indien meer onderdele benodig word, word dit bestel en geskeduleer.
-
Nie-strukturele skade: Panele word herstel of vervang, roesbeskerming word toegepas, en die motor word voorberei vir verfwerk. Ná die verf- en afwerkingsproses, moet alle panele wat afgehaal is, teruggesit word, en seker gemaak word die herstelwerk is volgens standaard gedoen.
-
Strukturele skade: Dieselfde stappe word gevolg, maar met meer ingewikkelde hersteltegnieke met gespesialiseerde masjinerie en meettoerusting om die voertuig se struktuur weer tot by die oorspronklike spesifikasies te bring.
Waarom dit saak maak
“Moderne motors is ontwerp met gevorderde veiligheidstelsels en liggewigmateriale,” sê Hanekom. “Herstelwerk volgens vervaardiger-spesifikasies gaan nie net oor hoe dit lyk nie – dit gaan oor die veiligheid van die bestuurder, passasiers en ander padgebruikers. Daarom volg alle SAMBRA-geakkrediteerde herstelwerkplekke streng, geouditteerde prosesse – of dit nou ’n klein duikie of groot strukturele skade is.”
Veilige herstelwerk verg tyd
Deur te verstaan wat agter die skerms aangaan, besef ’n mens hoekom gehalteherstelwerk nie gehaas kan word nie.



