Local newsNews

Nersa loop weer bloutjie in die hof; tariewe ongrondwetlik

Die uitspraak bepaal dat Nersa nou teen 31 Januarie 2026 die tariewe moet aankondig waarteen munisipaliteite krag moet aankoop.

Die Pretoriase Hooggeregshof Vrydag in die belang van elektrisiteitsverbruikers beslis deur AfriForum se standpunt te handhaaf dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) nie die behoorlike prosesse gevolg het toe dit munisipale elektrisiteitstariewe goedgekeur het nie.

Die hof het bevind dat Nersa se goedkeuring van munisipale elektrisiteitstariewe sonder die gebruik van behoorlike kostestudies en openbare deelnameprosesse ongrondwetlik is.

Die saak is met koste gewen, en die hof het ook AfriForum se versoek toegestaan vir ’n interdik wat vasgestelde tydlyne bepaal vir toekomstige openbare deelnameprosesse. Hierdie nuwe tydlyne in die proses van munisipale elektrisiteitstariefverhogings sal verseker dat die publiek genoegsame geleentheid het om insette te lewer oor voorgestelde verhogings.

Volgens die hofuitspraak moet Nersa teen 31 Januarie 2026 Eskom se jongste tariewe aankondig waarteen munisipaliteite krag moet aankoop. Die finale besluit oor tariefaansoeke moet teen Maart 2026 aan Nersa voorgelê word om voldoende tyd vir openbare deelname te bied, en Nersa se finale besluit oor elke munisipaliteit se nuwe tariewe moet teen 5 Mei 2026 afgehandel wees.

Die regter het ’n reël nisi uitgereik met ’n terugkeerdatum van 18 November, waarin alle belanghebbende partye — insluitend die 158 betrokke munisipaliteite — versoek word om redes aan te dui waarom hierdie voorgestelde tydlyne nie goedgekeur moet word nie. Hierdie reël verander egter nie die uitspraak oor die ongrondwetlikheid van Nersa se prosesse nie.

Nersa het vroeër aangevoer dat kostestudies nie by elke aansoek gepubliseer hoef te word nie omdat dit vertroulik is. Die hof het egter teen hierdie argument beslis en bepaal dat alle aansoeke vergesel moet wees van ’n kostestudie. Indien ’n aansoek sonder een ingedien word, moet Nersa dit duidelik vermeld.

“Hierdie is nie net ’n oorwinning vir AfriForum en sy lede nie, maar vir elke persoon wat vir elektrisiteit betaal,” sê Morné Mostert, AfriForum se Bestuurder van Plaaslike Regeringsake.
“Hierdie uitspraak verseker dat Nersa ’n deursigtige proses volg waar verbruikers ’n regverdige sê het in munisipale tariefverhogings, en dat Nersa en munisipaliteite nie die publiek kan mislei nie. AfriForum glo dat hierdie vaste tydlyne stabiliteit in tariefaanpassings sal bring.”

Deidré Steffens, AfriForum se Raadgewer vir Plaaslike Regeringsake, voeg by:

“As reguleerder behoort Nersa te verseker dat munisipaliteite binne die raamwerk van die wet optree en voortdurend die belange van verbruikers in ag neem. Hulle toets duidelik die perke van die wet, maar as hulle dit oorskry, sal AfriForum verseker dat daar teen die reguleerder opgetree word.”

Hierdie uitspraak is AfriForum se derde opeenvolgende hofoorwinning teen Nersa hierdie maand.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button