Bek-en-klou raak ons almal!
Die effek wat die verspreiding van bek-en-klouseer het raak nie net die boerderybedryf nie, maar het ook 'n direkte impak op verskeie ander sektore wat uiteindelik ook die verbruiker se sak raak.
Friedl von Maltitz, visepresident van Vrystaat Landbou (VL) en beesboer in die Vrystaat het weer ‘n beroep op alle boere gedoen om streng biosekuriteit oor hierdie feestyd af te dwing. Hy sê alle burgers van Suid-Afrika moet nou hul deel doen om die verspreiding van dié siekte te beperk deur biosekuriteitsmaatreëls te respekteer wanneer jy plase besoek, of by padversperrings sou kom.
Dit is veral ook belangrik dat alle wette nagekom word wanneer gesplete hoefdiere verskuif word.
Vernietigende effek van bek-en-klouseer
“Boere wie se vee met bek-en-klouseer besmet word, kry ‘n enorme finansiële knou omdat
hulle nie hul vee kan verkoop terwyl hulle vir 12-16 maande onder kwarantyn is. Dit is ‘n
hele jaar wat ‘n veeboer geen inkomste het nie,” het Von Maltitz gesê.
Vir stoetboere is die effek eweneens vernietigend omdat jaarlikse produksieveilings ook beïnvloed word wat genetiese vordering belemmer.
Slagpale moet tans die sogenaamde vyfde kwart van ingeënte diere vernietig (siek diere mag nie geslag word nie), en hierdie koste word aan die boer en die verbruiker oorgedra.
Baie handelsvennote stop alle invoere uit ‘n verklaarde provinsie, wat winsgewendheid in die rooivleiswaardeketting en belastinginkomste vir die fiskus om aan basiese dienste en ontwikkeling te bestee, beïnvloed.
Gevolglik lei dit weer tot werksverliese, en raak die voortgesette verspreiding van die siekte almal finansieël, het Vrystaat Landbou gewaarsku.
Enting vir kudde immunitteit nie ‘n kitsoplossing nie
Die Minister van Landbou, John Steenhuisen, het onlangs verklaar dat alle beeste
ingeënt moet word om kudde-immuniteit te verkry. Dit is egter nie ‘n kitsoplossing nie en is
‘n proses wat ten minste ses maande na 6 jaar sal neem om die virus weer na die endemiese
gebiede terug te stoot.
Tot dan word alle boere aangespoor om streng biosekuriteit, bewegingsbeheer toe te pas en volle samewerking aan staatsveeartse te gee, het Vrystaat Landbou gesê.

Beweging van vee
Die organisasie het voorts ‘n beroep op die polisie en weermag gedoen om hul pogings tot die beheer van dierebewegings op te skerp. Staatsveeartse wat dag en nag werk om besmette diere in te ent, is bekommerd oor die toename in bakkie-en-sleepwa- en spekulatiewe beweging van diere in en deur besmette gebiede namate mense met verlof gaan en die feestyd nader kom, wat die risiko van verdere verspreiding van die verwoestende siekte verhoog.
Vrystaat Landbou ondersteun daarom die inspeksie van alle dierebewegings by padversperrings om te verseker dat die diere geldige brandmerke en die nodige Artikel 6- en 8-dokumentasie en dieregesondheidsverklarings het wat vereis word vir die wettige beweging van vee ingevolge die Wet op Diere-identifikasie (6 van 2002), die Wet op Veediefstal (57 van 1959) en die Wet op Dieregesondheid (7 van 2002).



