Finansiële druk knyp produsente selfs waar lande belowend lyk
Produsente kan nie net op ’n goeie seisoen hoop nie - hulle moet ook die seisoen finansieel kan oorleef. Sonder ’n meer realistiese verhouding tussen pryse en koste, word selfs goeie produksietoestande onvoldoende, sê Graan SA
Hoewel somergraangebiede in groot dele van die land tans redelik tot goed lyk, waarsku Graan SA dat die werklike krisis hierdie seisoen nie net in die lande lê nie, maar in die harde ekonomiese werklikheid van graanproduksie. Produsente ervaar toenemende spanning weens ’n kombinasie van lae graanpryse, skerp stygende insetkoste, buitensporige meganisasie-uitgawes en die ekstra koste van oorplantings na versuip- en standskade.
’n Seisoen van uiterstes: nat lande, koue groei, duur besluite
In verskeie somergraanstreke het aanhoudende reënval en vol watertafels tot uiters nat lande gelei. Dit het onder andere plantwerk vertraag of in kolle heeltemal gestop, toegang vir onkruidbeheer en opvolgbespuiting bemoeilik, versuipskade in laerliggende dele veroorsaak, en boere in gevalle genoop om ‘n tweede keer te plant in ‘n tweede poging om voldoende plantestand te verkry.
Die pryse en koste maak produsente benoud
In verskeie gebiede word aangedui dat produsente bo-gemiddelde oeste benodig net om gelyk te breek. Waar langtermyn gemiddelde opbrengste laer is, maak dit die risiko nóg groter. Die grootste kostedrywers wat produsente wakker hou, sluit in:
- Meganisasiekoste (vervanging met meer effektiewe masjienerie, parte en herstelwerk wat buite verhouding styg),
- Chemie en beskikbaarheid (waar alternatiewe produkte dikwels aansienlik duurder is),
- Saad en kunsmis, wat jaarliks bo inflasie toeneem,
- en energie (diesel en elektrisiteit) wat produksie in sekere streke al hoe minder haalbaar maak.
Produksiegebiede oorsig
Noordwestelike produksiegebied
In die noordwestelike produksiegebiede is die seisoen tot dusver grotendeels nat, met weeklikse reën wat goeie ondervog en sterk groei ondersteun. Plantwerk is in baie dele byna voltooi, maar vol watertafels en swaar, nat lande hou produsente in sekere dele steeds uit die lande.
Daar is blokke wat versuip het, dele wat oorplant moes word, en in sommige areas word reeds aanvaar dat ’n gedeelte nie meer geplant gaan word nie. Met die optimale plantvenster wat binnekort verstryk en nat toestande, oorweeg produsente in plekke om laaste hektare eerder later met sonneblom te plant.
Tog bly die grootste spanning ekonomies: produsente sê reguit dat huidige pryse, veral waar uitvoerpariteit die toon aangee, nie die koste kan dra nie. In sommige dele word die druk verder vererger deur graan van die vorige seisoen wat nog in silo’s lê, wat kontantvloei en die vermoë om die nuwe seisoen behoorlik te finansier, ernstig knou.
Noordoostelike gebiede
In die noordoostelike gebiede word ’n nat aanvang tot die seisoen en heersende koel toestande wyd gerapporteer. Hoewel gewasse in baie dele aanvaarbaar tot goed vertoon, het die vroeë koue groei vertraag en produsente is bekommerd dat opbrengste later benadeel kan word. Wat egter die sterkste uitstaan, is die koste-prys knyptang.
Insetkoste vir mielies en sojabone is reeds op vlakke waar produsente meen hulle moet bo-gemiddelde oeste stroop net om gelyk te breek.
Daar is ook dele waar nat lande spuitwerk en onkruidbeheer frustreer, en waar sommige hektare nou eenvoudig nie meer geplant kan word omdat die optimale planttyd in die ooste reeds verstryk het.
Produsente in verskeie gebiede noem ook toenemende kommer oor bek-en-klouseer, wat ’n bykomende risiko vir gemengde boerderystelsels in die nuwe jaar kan wees.
Oos-Vrystaat
In die Oos-Vrystaat het plantwerk in baie gebiedever gevorder en staan die gewasse mooi, maar swaar grond en aanhoudende nat toestande het in sekere dele ’n groot rem geplaas op aanplantings en toegang tot lande. Daar is produsente wat steeds beduidende hektare agter is, en ander wat reeds oorskakel na alternatiewe gewasse omdat die plantvenster knyp.
In tradisionele laer potensiaal dele word die realiteit skerp gestel: met huidige insetkoste is dit nie winsgewend nie, en die druk op produsente is tasbaar.
Die koste van opvolgbespuiting, in sommige gevalle noodgedwonge met vliegtuie of hommeltuie, saam met verlore plantgeleentheid in die seisoen, het uitgawes verder opstoot – terwyl die produkprys nie saam beweeg nie.
Wes-Vrystaat
Die Wes-Vrystaat het ook bo-normale reën ontvang die seisoen. Daar is vroeë aanplantings wat uitmuntend lyk met bo-gemiddelde potensiaal, maar groot dele van die seisoen is gekenmerk deur verdigting, ongelyke opkoms, saad wat vassit, oorplantings en chemie wat nie optimaal werk onder voortdurende nat toestande nie.
Hierdie dubbel-werk – meer ritte, meer brandstof, meer arbeid en meer herstelwerk – lei na groter kostes. In sommige dele word reeds verwag dat ’n betekenisvolle gedeelte van oppervlak nie geplant sal kan word nie, aangesien watertafels vol bly en verdere reën in die korttermyn voorspel word. Die lae hitte-eenhede en beperkte toegang tot nat lande beteken dat produsente sukkel om tydig regstellings te doen, wat later ’n invloed op opbrengs en kwaliteit kan hê.
Vir die besproeiingsgebiede is die groot rooi lig die bekostigbaarheid van energie. In baie van hierdie streke bly produksietoestande relatief stabiel, maar produsente dui aan dat besproeiing al hoe minder ekonomies haalbaar raak.
Dit gaan toenemend nie meer oor die beskikbaarheid van elektrisiteit nie, maar oor die prys daarvan, saam met diesel, kunsmis, saad en ander insette. Waar wintergewasse geoes is, was daar ook gevalle waar reën stroop verhinder het en verliese weens brande en ander ontwrigtings plaasgevind het.
In ander besproeiingsdele is insetkoste vir hoë-inset gewasse buitengewoon hoog, terwyl kragonderbrekings produsente dwing om bykomende oplossings soos sonkrag en kragopwekkers in te span – teen nog groter koste.
Suid-Kaap
In die Suid-Kaap staan wintergraanprodusente voor ’n heel ander, maar ewe ernstige uitdaging: uiterste droogte en waterbeperkings. Met beperkinge by belangrike waterbronne en dele van riviere wat laag of droog is, kan produsente in sommige areas nie meer pomp nie. Selfs waar gemiddelde opbrengste aangemeld word, bly die finansiële druk intens omdat insetkoste hoog bly terwyl produkpryse nie voldoende verligting bring nie.
Graan SA se fokus: volhoubare plaaslike graanproduksie is ’n nasionale belang
Graan SA beklemtoon dat plaaslike graanproduksie ’n kernpilaar van voedselsekerheid en landelike ekonomiese stabiliteit is. Wanneer produsente nie winsgewend kan produseer nie, raak dit nie net boerdery nie, maar ook werk in landelike gebiede, diensverskaffers, en waardekettings regdeur die ekonomie.



