Valke slaan toe by kantore van Vrystaatse munisipaliteit oor beweerde korrupsie
Geen arrestasies is in hierdie stadium gemaak nie, en die ondersoek duur voort het Valke-woordvoerder adjudant-offisier Fikiswa Matoti gesê.
Die Valke het beslag gelê op verskeie dokumente insluitend betalingsbewyse en ander verwante rekords nadat die kantore van die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit in Kroonstad Vrydag deursoek is as deel van ‘n ondersoek na beweerde bedrog en korrupsie van oor die R6m vir dienste en goedere wat nie gelewer is nie.
Valke-woordvoerder adjudant-offisier Fikiswa Matoti sê die bewerings van bedrog en korrupsie hou verband met onreëlmatighede in verkrygingsprosesse waarby Korone Engineering Co. betrokke is.
Korone is in Desember 2022 deur die Moqhaka-munisipaliteit aangestel om afvalwaterbehandelingsinstandhoudingsdienste, asook die instandhouding van riool- en waterpompstasies, vir ’n tydperk van drie jaar te lewer. Die diensverskaffer is na bewering
gekontrakteer om twee kragopwekkers, twee waterpompe en twee watermeters te
installeer, en twee boorgate in Steynsrus te boor.
Daar word beweer dat die Moqhaka-munisipaliteit ’n bedrag van ongeveer R6 441 871,75 aan Korone betaal het vir die dienste en goedere wat nie gelewer is nie.
Matoti sê bedrieglike eise is na bewering deur die diensverskaffer ingedien, wat onder meer
eise vir vier kragopwekkers in plaas van twee, waterpompe met ’n lengte van 3 meter
in plaas van die vereiste 1,7 meter, en die boor van vier boorgate in plaas van twee, ingesluit het.
Die saak is aan die Valke se Eenheid vir Ernstige Korrupsie-ondersoeke in Welkom gerapporteer, wat die saak ondersoek het. Geen arrestasies is in hierdie stadium gemaak nie, en die ondersoek duur voort, het Matoti gesê.
Korone Engineering is in Junie 2025 deur die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit ingevolge noodverkrygingsregulasies in munisipale wetgewing, aangestel as kontrakteur vir die herstel en opgradering van Parys se watersuiweringswerke nadat die herstelwerk by die suiweringsaanleg in April 2025 tot stilstand gekom het toe die oorspronklike kontrakteur, Setshabelo Trading, wat in 2023 aangestel is, se kontrak beeïndig is.
Noodverkrygingsregulasies laat munisipaliteite toe om ‘n kontrakteur sonder die gebruiklike tenderprosesse aan te stel.



