Trollies en stootwaentjies laat wiel by kortbeen resies
Dit was 'n dag vol pret met die ouers en onderwyser aflosse wat beslis een van die hoogtepunte van die dag was.

Twaalf skole, 576 kleuters, groot glimlagte en oop arms wat wag by die eindstreep. Dit som die kleuterskole atletiekbyeenkoms op wat vanjaar deur Immergroen Kleuters aangebied is.
Benewens die kleuters se geesdrif waarmee daar van juffrou se arms na ‘n mamma, pappa of oupa en ouma se arms by die eindstreep gehardloop is, het die pappas se jolley trolleyaflos, die mammas op volle vaart agter ‘n
stootwaentjie, en die juffrouens se poppeaflos gesorg vir van die grootste hoogtepunte en pret op die dag se program.
Uiteindelik het Kiewiet-kleuterskool se mammas, pappas en juffrouens gewys dat hulle die meeste spoed in die bloed het.
‘n Pluimpie in die hoed ook vir Nollie Meintjies vir sy kommentaar agter die
mikrofoon wat bygedra het tot ‘n dag wat nog lank deur elkeen van die kleuters wat deelgeneem het, onthou sal word.
Die foto’s gee ‘n kykie na die dag se pret.
































