‘Onwettige aanstelling van Ngwathe beampte weer met LUK opgeneem
“Die kandidaat se graad is nie toepaslik nie en kon nie as voldoening aan die vereistes vir aanstelling in die pos aanvaar word nie” het raadslid Van der Merwe toe gemaan.

Tydens ‘n spesiale raadsvergadering op 8 November 2023 het die Ngwathe Munisipale Raad mnr Mxolisi Pali op kontroversiële wyse aangestel as waarnemende direkteur van die departement gemeenskapsdienste. Die aanstelling is deur die ANC meerderheid raadslede gesteun en deurgedruk nieteenstaande sterk protes daarteen deur die VF Plus, die DA en die Ngwathe Ratepayers Association. Die EFF het buite
stemming gebly oor die saak.
Dit boonop ten spyte daarvan dat Vryheidsfront raadslid Phillip van der Merwe aan die vergadering beklemtoon het dat dit uit dokumente aldaar voorgelê geblyk het dat die kandidaat nie voldoen het aan die minimum vereistes vir aanstelling in die pos nie.
Die gewysigde Munisipale Stelselswet bepaal spesifiek dat die aanstelling van enige persoon in ‘n senior bestuurspos terwyl hy nie aan die vereistes betreffende bekwaamhede, kundigheid, bevoegdheid of kwalifikasies voldoen nie, nietig is.
“Die kandidaat se graad is nie toepaslik nie en kon nie as voldoening aan die vereistes vir aanstelling in die pos aanvaar word nie” het raadslid Van der Merwe toe gemaan.”Die raad het reeds vingers verbrand en dit het hom duur te staan gekom met die vorige aanstelling van ‘n direkteur wat nie geskik gekwalifiseerd was vir die pos waarin hy aangestel was nie en ‘n herhaling van die fout kan eenvoudig nie bekostig
word nie, veral in ‘n tyd waar Ngwathe dienslewering op die laagste vlak in jare is”.
Daar was ook geen inligting aan die raad voorgehou betreffende die kandidaat se bekwaamhede, kundigheid of bevoegdheid vir aanstelling in die pos nie. Dit desnieteenstaande dat dit verlang word dat ‘n kandidaat vir die pos oor minstens vyf jaar ervaring op middelvlak bestuur sal beskik. “Die gebrek aan relevante inligting om te oorweeg opsigself maak in elk geval reeds die aanstelling onreëlmatig” het raadslid Van der Merwe verder gewaarsku.
Hy het die saak namens die Vryheidsfront Plus verwys na die Lid van die Uitvoerende Komitee vir Plaaslike Regering met die versoek dat dié
ingryp en die munisipaliteit aansê om die onwettige aanstelling, wat volgens hom uit die staanspoor nietig was, ter syde te stel.
Tans het die LUK nog geensins op die versoek gereageer nie en het raadslid Van der Merwe pas ‘n dringende opvolgbrief aan hom gestuur om te waarsku dat enige besluite wat die beampte uit hoofde van gedelegeerde bevoegdhede mag neem terwyl hy die
pos onwettig beklee nietig mag wees en groot komplikasies en nadele vir die munisipaliteit mag inhou. “Ek vertrou werklik dat die LUK nou die aangeleentheid sal bejeen met die dringendheid wat daarmee gepaard gaan” sê raadslid Van der Merwe terwyl ‘n antwoord en reaksie van hom daarop nog afgewag word.



