Met sy kwaste sit hy kos op die tafel
"Mense wat op hul hande sit kan nie eet nie", sê hy, en dit is waarom hulle dit doen.

“Ek is net een van daardie mense wat nie op my hande sit nie,” sê hy.
Op die hoek van Breë- en Phillipstraat dreun motors en vragmotors verby dié besige kruising op die Vrydagoggend. Ongesteurd haal Moné Smit sy stensils, gesny uit ou x-straalplate uit sy saamsleep-trollie. Wys hoe die stensils letter vir letter geplaas word. Dis ‘n nederige werk, vertel hy so in die gesels waar hy gehurk by die randsteen sit – eers skoonvee en netjies verf waar die letterwerk moet kom, terwyl die son vroegdag sy merk maak met sweetstrepe op jou voorkop. Dié straatnaam is geborg deur MooiParys, sê hy.
Hy vind nog sy pad, vertel Morné. Hy en sy vrou, Madelein, is nog net twee weke in die dorp, maar sy kwaste het al in baie strate naam gemaak – President Kruger, President Brand, h/v Tweedelaan en Wesstraat, Kerkstraat, Waterstraat, Mockelaan.
Gaan kyk in Potch, sê hy, en haal sy boek uit sy trollie.
Bladsye se straatname en huisnommers is hier aangeteken. Hul handewerk in die tyd wat Morné en Madelein in Potch gebly het. Hulle was op pad Kaap toe. Sou net oornag in Potch, maar toe dwing omstandighede hulle om te bly.
“Die gemeenskap van Potch was ongelooflik goed vir ons,” sê Morné en vertel van Mooirivier Beskerming se Johan en Celia se ondersteuning, en ‘n onderwyseres wat gehelp het om die letterstensels uit die ou x-strale vir hulle gesny te kry. Die straatnaam en huisnommer verwery sit die kos op hul tafel, en maak hy selfs slaggate reg.
Hy’t nie ‘n motor nie. Ek loop met my ‘liewe Jesus wieletjies’ van huis tot huis om bydraes uit mense te mergel, sê hy met ‘n vriendelike glimlag, en ‘n tikkie humor as hy byvoeg – “Mense sal soms deur die venster vir my loer as ek klop om aan te bied om ‘n straatnaam te verf. Dalk lyk ek soos ‘n ‘Kirby salesman’ of soos iemand wat Bybels verkoop.”

Maar eintlik wil hy en Madelein net help – op ‘n eerbare manier om ‘n geldjie te verdien. Strate het mos nie meer name nie. Mense soek hul dood na ‘n adres. Om jou straatnaam voor jou huis te verf vra hy R30 ‘n letter. R150 vir ‘n huisnommer, maar pensioenarisse betaal net R100 vir ‘n huisnommer, sê hy ernstig, want tye is moeilik.
Wat die beste werk is om lang strate in blokke op te deel. Huishoudings in ‘n blok kan dan elk R50 bydra om die straatnaam in daardie blok op die randsteen te laat verf. Dis beter as naamborde op pale wat voete kry – en boonop netjies.
Mense wat op hul hande sit kan nie eet nie, sê hy, en dit is waarom hulle dit doen. “Gaan kyk maar na my werk,” sê hy, en rits die straatname een na die ander af in Potch en Parys waar sy kwaste naam maak vir hom op dorpe se randstene.
Morné kan geskakel word by 067 144 8623