Local newsNews

Met dié penne gaan jy ander laat glimlag

Kom wees deel en maak 'n verskil.

Jy hoef nie ‘n Moeder Teresa te wees om ‘n verskil te maak nie. Begin klein, waar jy is met wat jy het om die wêreld ‘n beter plek vir ander te maak. En hoekom nie sommer nou aan die begin van ‘n nuwe jaar nie?As jy tyd op hande het en ‘n hart vir ander waarmee jy ‘n verskil wil maak – haal uit daardie brei- of hekelnaalde en maak ‘n teddie wat geskenk kan word aan die Rosenhof Spesiale skool.

Elke leerder van die skool ontvang met hul inskrywing ‘n teddiebeertjie in hul verwelkomingspakket. Net ‘n paar uur van jou tyd in die gemak van jou eie huis waarmee jy ‘n groot verskil vir ‘n kind kan maak vir wie hierdie teddiebeer die wêreld sal beteken.

Jy kan Beth Mackay skakel by 079 301 2283 vir meer inligting oor die projek, of as jy in Parys is maak ‘n draai by Anna Patat of stuur ‘n WhatsApp na Anneke by 072 152 0839 as jy ‘n patroon nodig het vir die teddies, of wil hoor hoe jy kan help.

As jy nie kan brei of hekel nie kan jy ook hekelgare of wol skenk vir vrywilligers wat help met die projek.

Maar dit is nie al hoe vlytige hande vanjaar uitreik na ander nie. As jy hekel of weet van iemand wat hekel – sprei die woord, want vanjaar gaan ons groot in die Vaaldriehoek. Daar word nou reeds ywerig gewerk om die wêreldrekord te breek met die Rocking the Vaal inisiatief waarmee gepoog gaan word om vanjaar 35 000 serpe te maak. Kan jy jou indink – ‘n totaal van 35km se gehekelde serpe of te wel 7 000 vierkante meter en dit alles vir welsynsorganisasies om hulle te help wat minder het.

Na twee baie suksesvolle pogings waarin twee wêreldrekords al gebreek is en meer as 8 000 komberse vir liefdadigheidsorganisasies geskenk kon word, het die Stitches & Sews geleentheid al ‘n datum op die kalender in baie huishoudings geword.

Vanjaar word die geleentheid bemark onder die naam Rocking the Vaal want dit is presies wat gedoen gaan word wanneer borge en deelnemers aan die projek op 16 Maart by Emerald Resort & Casino gaan sorg vir ‘n gesig wat jy nog nie gesien het as duisende serpe bymekaar gesit word vir dié groot 4 x wêreldrekordinisiatief.

Elke skool, elke kerk, elke vrywillige hand kan help om 35 000 serpe met dié projek te kan gee aan hulle wat dit die nodigste het.
Paryenaars kan ook by Anna Patat in Parys se hoofstraat gaan inloer om te hoor hoe jy hiermee kan help of stuur ‘n WhatsApp na Anneke by 072 152 0839.

Jy kan ook met Danie van Deventer gesels by 074 189 8347 oor wat alles by die Emerald beplan word vir die 16de, of gesels met Jackie van Waveren by 084 326 5228.

Kom wees deel en maak ‘n verskil.

Related Articles

Back to top button