Maak nou plan met waterslaai se wurggreep op die Vaal
Een van die plante kan tot vyf lote uitstoot wat beteken dat die plante elke drie weke kan vervyfdubbel
Die kommerwekkende toename van hiasinte en waterslaai (Pistia stratiotes) op die Vaalrivier stuur af op ‘n ramp. “Ek is baie bekommerd oor die situasie,” sê Saal de Jager, ‘n lid van die Likkewaan-kanoklub wat vroeër ook betrokke was by Parys se waterhiasintekomitee. Die komitee is die afgelope sewe jaar nie meer aktief nie.
Voor Kersfees het hy min van die plante op die rivier gesien, vertel Saal, maar die afgelope week was hy geskok oor ‘n totaal ander prentjie toe hy stroomop van die kanoklub geroei het. Dit versprei letterlik oral sê Saal, omdat die plant vegetatief en met saad voortplant. Een van die plante kan tot vyf lote uitstoot wat beteken dat die plante elke drie weke kan vervyfdubbel.
Nie net kan die drastiese toename van die plante vis in dié rivier versmoor nie, maar kan dit ‘n enorme uitwerking op toerisme aktiwiteite op die Vaalrivier hê. Op die langeduur sal dit pompe verstop, en skade aan toerusting vir boere veroorsaak wat water uit die rivier pomp. Dit kan ook uitdagings bring vir munisipale watersuiweringsaanlegte soos by Parys en Vredefort waar water direk uit die rivier onttrek word.
Daar is egter steeds onsekerheid oor waar waterslaai sy oorsprong vandaan het. Die plant is in die grootste deel van die wêreld as aggressiewe indringer verklaar. So ook in Suid-Afrika waar dit die eerste keer in 2021 in die Suikerbosrivier gesien is. Dit dryf op die water en floreer in stadig vloeiende water.
Vroeër was dit hoofsaaklik hiasintegroei wat ‘n uitdaging vir die Vaalrvier was, maar nou sien jy ewe veel van die hiasinte en die waterslaai op die water. sê Saal. “My grootste vrees is as die waterslaai sou afspoel deur die sluise by die Barrage.”
Dit word ook gestaaf deur foto’s wat Vrydag deur Anthony Turton op Facebook geplaas is. Turton sê dat die foto’s wys dat die Vaalrivier vinnig besig is om die pad van die Hartebeespoortdam te volg. Hy verwys in sy plasing na die trofiese status van die Vaalrivier wat dui op hoë vlakke van voedingstowwe, tipies fosfaat en nitraat, wat gewoonlik met rioolterugvloeistowwe geassosieer word. Turton sê in die plasing dat die belangrike les vir Suid-Afrika is dat geen eutrofiese stelsel nog ooit effektief hier gerehabiliteer kon word wanneer die proses eers begin het nie – selfs nie eens met die bes moontlike wetenskap, ingenieursvernuf of tegnologie nie.
Ons besoedel ons eie drinkwaterstelsel met onbehandelde riool, en dit het ‘n groot ekonomiese en sosiale gevolg op die lang duur waarsku Turton.
Die nie-regeringsorganisasie, Save the Vaal Environment (Save) het voorverlede week in ‘n brief by monde van sy voorsitter, Malcolm Plant, aangedring op antwoorde by Rand Water en die regeringsdepartemente van water en sanitasie, bosbou, vissery en omgewingsake oor wat gedoen gaan word om die ramp waarop die Vaalrivier afstuur te verhoed.
Plant sê grondeienaars langs die Vaalrivier wil die regering help om die indringerplante uit die Vaal te verwyder, maar steun van die regering en RandWater is nodig.



