Dis jou laaste kans: Hier is alles wat jy moet weet oor registrasie naweek
Mense kan by die registrasiepunte gaan registreer of hul besonderhede op die kieserslys gaan nagaan.

Versuim om ‘n adres op die kieserslys te verander indien jy sedert die vorige verkiesing verhuis het, sal beteken dat as jy wil stem, jy sal moet reis na die stempunt waar jy geregistreer is, anders sal jy nie kan stem nie.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) stel hierdie naweek, 3 en 4 Februarie, landwyd registrasiepunte beskikbaar waar kiesers kan registreer om te stem in die verkiesing van lede van die nasionale parlement en provinsiale wetgewers. Die verkiesingsdatum is nog nie bekendgemaak nie.
Registrasiebeamptes sal nog vandag, Sondag 4 Februarie, by elke stempunt waar tydens die verkiesing gestem kan word, beskikbaar wees om kiesers te help om nuut te registreer, of om besonderhede op die kieserslys na te gaan en, waar nodig, op te dateer.
Hoe laat kan jy die registrasiepunte besoek:
08:00-17:00 op Sondag 4 Februarie.
Wat is nodig om jou besonderhede op te dateer, na te gaan of nuut te registreer?
Net jou identiteisdokument of ID-kaart
Waar is die registrasiepunte?
Goeie raad is om na die stemlokaal (registrasiepunt) naaste aan jou te gaan, of waar jy met die laaste verkiesing gestem het.
Registrasiepunte in Parys is by:
Parys Openbare Biblioteek
NG Wes
NG Suid
Forum-gebou
Tent regoor die ingang van die Parys Distrik hospitaal
Parys Rotaryklubsaal
Mooihoek
Basa Park
Wat baie belangrik is, is dat die proses sedert die vorige nasionale verkiesing aangepas is, en kiesers nou in die komende verkiesing slegs sal kan stem by die stempunt waar hulle geregistreer is. Dit is ‘n wesenlike verandering met kiesers wat voorheen by enige stempunt in die land vir lede van die parlement, en by enige stempunt in die provinsie waarin hulle geregistreer is vir lede van die provinsiale wetgewers. kon stem.
Juis daarom is dit noodsaaklik dat kiesers die geleentheid gebruik om seker te maak dat hulle kan stem by die stempunt naaste aan hul woonadres. Versuim om ‘n adres op die kieserslys te verander indien jy sedert die vorige verkiesing verhuis het, sal beteken dat as jy wil stem, jy sal moet reis na die stempunt waar jy geregistreer is, anders sal jy nie kan stem nie.
Jy kan ook seker maak of jy geregistreer is deur jou ID nommer te sms na 32810.
Teen Saterdagmiddag het 55 000 nuwe kiesers by registrasiepunte oor die land heen gaan registreer. Altesaam 7234 nuwe kiesers het op die OVK se aanlyn portaal geregistreer.
By Parys se registrasiepunte was dit vroeg Saterdagoggend nog betreklik stil.
Twee registrasiepunte in die dorp, by die biblioteek en die NG Parys Wes-Kerksaal, het ook eers na 07:00 Saterdagoggend geopen.
Die finale syfer vir kiesers wat nuut geregistreer het, of kiesers wat besonderhede nagegaan het, by al die Ngwathe registrasiepunte was nog nie bekend met die skryf van hierdie berig nie.

