Potgieters deel ‘n passie vir parkrun
Van Kimberley tot by Clarens. Waar hul kom het die Potgieters geparkrun.

“Dis lekker om jou omgewing te verken – veral as jy in ‘n ander dorp is,” gesels Yolande Potgieter wat Saterdag haar 250ste parkrun hier voltooi het.
Al het Parys ‘n besonder mooi roete langs die Vaalrivier-oewer, staan Clarens vir haar uit as een van die mooistes. Hardloop was nie altyd haar ding nie, vertel sy. Die ma van twee stelle tweelinge, was op skool glad nie ‘n atleet nie.
Toe haar sus, Anra Faber van Bloemfontein, wat geensins sportief is nie, in haar dertigs die eerste keer begin draf het, het Yolande gedink- as Anra kan – hoekom nie sy ook nie.
Na die geboorte van haar tweede stel tweelinge trek sy toe die tekkies aan. Na baie kilometers, vertel sy dat daar geen beter manier is om kop skoon te maak en van spanning ontslae te raak nie. Toe die gogga Yolande gebyt het, het haar hele gesin ingeval, en het hulle saam-saam heelwat parkruns voltooi. Saterdag was Hein, en die tweelinge, Lourens, Dian, Wium en Ardu ook daar om haar te ondersteun.

Van die begin van parkrun in Parys het Yolande deelgeneem. Sy vertel dat sy in die Gazette gelees het dat parkrun-legende Bruce Fordyce die parkrun hier sou open. Sy was daar, en daarna ook elke Saterdag by die wegspring.
“Eintlik moes ek al lankal my 250 parkrun-mylpaal behaal het,” vertel sy, maar nadat sy vir lank opgehou het, het sy die mylpaal later bereik.
Nou is sy weer volstoom aan die gang.

“Dit is ‘n goeie manier om betrokke te wees by dit wat in jou gemeenskap gedoen word,” gesels Yolande.