Nog ‘n historiese gebou in die hande van vandale
Die omheining van die hele museumperseel blyk egter al oplossing te wees om vandale hier uit te hou.

Die behoud van Parys se historiese museumgebou op die dorpsplein word nou bedreig deur haweloses en hulle wat ‘n lewe uit herwinning maak wat hier agter die museum vuur maak en vullis stort. Die vrees is dat die vlamme reg by ‘n boom wat teen die musuem leun, sal versprei na die geskiedkundige gebou.
Graffiti wat teen die gebou se steenmure geverf word, is eweneens ‘n kopseer en doen afbreuk aan die historiese waarde van die gebou wat in 1904 na die Anglo Boere-oorlog opgerig is.

Die gebou het aanvanklik die magistraatskantore gehuisves.
Die gedagte om ‘n museum vir die dorp te hĂȘ het gekom in 1967.
Planne hiervoor het egter eers in 1980 werklikheid geword toe die ou magistraatskantore aangewys is as lokaal vir die museum.
Daar is dadelik met restourasie van die gebou begin – ‘n proses wat twee jaar geduur het, en in Februarie 1982 voltooi is.
Op 14 Maart 1983 is die museum voorlopig vir die publiek geopen, en in Junie 1986 word die gebou tot Nasionale Monument verklaar en amptelik deur die burgemeester, mnr. JJ Dannhauser geopen.
Die laaste dertig jaar is hard gewerk om die museum se deure te probeer oophou, maar sonder geld vir instandhouding, bedryfsuitgawes en ‘n behoorlike omheining, verval die karaktervolle gebou jaar na jaar net soos die dorp se stadsaal wat net ‘n hanetree van die museumgebou staan.
In 2020 is die museum gedeeltelik omheim na verskeie pleidooie, en met hulp uit die gemeenskap.
Die omheining van die hele museumperseel blyk egter al oplossing te wees om vandale hier uit te hou.