SA kano polo kampioenskappe lê nou voor
Parysenaars het onlangs ook 'n voorsmakie van die opwindende watersport gekry toe sowat dertig kano polo spelers van dwarsoor Gauteng aan 'n toernooi by die Likkewaan Kano-klub deelgeneem het.
Die Suid-Afrikaanse kano polo kampioenskappe word van 3 to 5 Mei in Kwazulu-Natal gehou.
Parysenaars het onlangs ook ‘n voorsmakie van die opwindende watersport gekry toe sowat dertig kano polo spelers van dwarsoor Gauteng op Sondag 10 Maart aan ‘n toernooi by die Likkewaan Kano-klub net buite Parys deelgeneem het.
Die spelers het Dabulamanzi Canoe Club en ERK Kano Klub van Johannesburg sowel as Likkewaan Kano Klub van Parys verteenwoordig. Drie o/18 spanne, bestaande uit seuns en dogters tussen 13 en 18 jaar, en twee senior spanne het teen mekaar meegeding.

Ten spyte van die verseggende hitte, het die adrenalien gevloei terwyl spelers probeer het om balbesit te kry en doele aan te teken. Die vinnige tempo van die spel het gesorg vir opwinding en vermaak vir die toeskouers.
Die dag voor die toernooi het twaalf van Dabulamanzi Kano Klub van Johannesburg se kano polo spelers deelgeneem aan ’n vol dag “whitewater kayaking” kursus vir beginners.
Die groep, wat bestaan het uit kinders en volwassenes tussen die ouderdom van 13 en 27 jaar, se opleiding is afgeskop met ’n inligtingsessie oor die ‘moets en moenies’ van “whitewater kayaking”.

Die groep is ook ingelig oor die toerusting wat benodig word om te kajak, soos ’n kajak, “splashy”, reddingsbaadjie, dubbellem roeispaan, helm, ensovoorts. Nadat die groep die basiese beginsels onder die knie gehad het, het hulle dit eers op kalm water geoefen.
Na afloop van die opleiding het die deelnemers met die rivier afgeroei waar hulle opleiding handig te pas gekom het met die stroomversnellings.
Terugvoer van die groep na afloop van die aktiwiteit was dat hulle dit graag weer sou wou doen! Die aktiwiteit is deur Whitewater Training aangebied.



