KidsGames: ‘n Vakansieprogram met hope pret en soveel meer
As jy die besondere geleentheid gemis het, is daar ook 'n Kidsgames program gedurende Junie in Potchefstroom en weer in Maart 2025 in Parys.

Een en tagtig kinders neem vandeesweek deel aan die Kidsgames vakansieprogram, spesifiek vir laerskoolkinders, wat in Parys aangebied word. ‘n Puik georganiseerde en gestruktureerde program met nie net hope pret en plesier om ledige vakansieure om te kry nie, maar wat ook op ‘n besondere manier die evangelie aan jong kinders verkondig.
Elke dag is propvol pretaktiwiteite waaronder ook die span van Kragapie wat elke oggend se program begin met oefening en aktiwiteite wat die kinders sommer baie geniet. Deur die dag word in spanne en groepe gewerk en leer hulle ook om te kyk na hul omgewing saam met MooiParys se Whatty.

Hoewel Every Nation Faith City die dryfveer agter die program is, is hierdie ‘n besondere gemeenskapsprojek om uit te reik na die kinders van Parys. Vyf en twintig jeugvrywilligers uit die gemeenskap is betrokke en goed opgelei vir die program.
Ander kerkgroepe is ook betrek waaronder Lede in Christus Parys wat sorg vir die voorbereiding van die smaaklike etes vir die kinders, die NG Wes-gemeente wat hul fasiliteite beskikbaar stel, en vrywilligers van die Sion-gemeente wat kom hand bysit.
Woensdag 27 Maart is daar heerlike waterpret en evangelie verkondiging en word die week Donderdag 28 Maart afgesluit wanneer die sewe spanne kans sal kry om hul kreet te skree en te wys waaraan hulle die week gewerk het. Die afsluiting word ook deur die ouers bygewoon en elke kind ontvang ‘n sertifikaat.

As jy die besondere geleentheid gemis het, is daar ook ‘n Kidsgames program gedurende Junie in Potchefstroom en weer in Maart 2025 in Parys.
Gesels gerus met Barend Groenewald as jy meer van die program wil hoor. Hy kan geskakel word by 083 348 8780.



