Local newsNews

Nog ‘n bejaarde aangeval in huisroof

Bejaardes is die afgelope maand in verskeie voorvalle van huisroof in Parys en Vredefort geteiken.

Die 78-jarige Sarie Volschenk van Vredefort is Maandag helder oordag deur twee mans met klapmusse in haar huis in Carl Cilliersstraat  aangeval.

Elna Saayman, sê haar skoonma  was in die kamer besig om haar hare droog te blaas toe  sy rondom 11:00 die oggend die hondjie hoor blaf het. Sy het opgestaan om te gaan kyk wat fout is, en haar in die gang vasgeloop in die twee mans wat oor die heining geklim het om toegang tot die erf te kry.

Sy is met ‘n voorwerp, waarskynlik ‘n knopkierie aangeval. Sarie het om hulp geskree en na die kamer gehardloop waar haar man, Johan, was. Haar aanvallers het waarskynlik geskrik toe sy geskree het en die hasepad gekies   met beide Johan en Sarie se selfone,  en van die lekkergoed wat in die kombuis was.

Sarie is na die Parys-hospitaal geneem waar sy behandel is vir die wonde aan haar kop, arm en oor.

Beide Johan en Sarie is erg getraumatiseer deur die voorval. Johan is nie in die voorval beseer nie, het Elna gesê.

Die verdagtes is nog nie gearresteer nie.

Elna het groot dank vir die Vredefort polisie, Parys Hospitaal personeel, Parys Sekuriteit en Zuanne van die Hartshuis wat uit hul pad gegaan het om te help na die voorval.

Bejaardes is die afgelope twee maande in verskeie voorvalle van huisroof in Parys en Vredefort geteiken.

In Parys is twee voorvalle van huisroof by bejaardes gerapporteer, terwyl ‘n man vroeër vandeesmaand ook in Vredefort in die oggendure van 17 April by sy huis in Oranjestraat aangerand en beroof is van sy selfoon en gaspistool. Hy het water hoor loop en  opgestaan om te gaan kyk of ‘n buite kraan toegedraai was. Met dié is hy oorval.

Die polisie waarsku weer dat mense te alle tye hul deure en veiligheidshekke gesluit moet hou. Moet onder geen omstandighede die deur oopmaak vir vreemdes wat aan jou deur sou kom klop, of hul inlaat nie.

Oppas wie jy indiens neem en maak seker jy het ‘n afskrif van die werknemers se identiteitsdokument, bewys van adres en ‘n foto van die werknemer.

Aktiveer jou alarm wanneer jy nie tuis is nie, maar ook saans. Moenie waardevolle items sigbaar of naby vensters laat nie.

Wees bedag op wat in jou woonbuurt aangaan. As jy verdagte voertuie of bewegings sou sien rapporteer dit aan die polisie of jou sekuriteitsmaatskappy, en laat weet die bure op jou straat se WhatsApp groep.

Raak vertroud met jou bure se bewegings sodat jy weet wanneer iets nie reg sou lyk nie.

Hou noodnommers byderhand en onthou -misdaad is ‘n realiteit en daarom moet jy seker maak dat jy alles moontlik doen om veilig te wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button