AfriForum nader hof om Ngwathe onder administrasie te plaas
“Dit is van kritieke belang dat die regering nou toetree en ingryp anders sal AfriForum ander praktyke, soos saakwaarneming, oorweeg,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivierdistrik

AfriForum het vandeesweek hofstukke ingedien waarin dié burgerregteorganisasie vra dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit onder provinsiale administrasie geplaas word. Dié stap volg op die simboliese begrafnis vir dienslewering in Parys wat AfriForum in April gehou het. (https://www.citizen.co.za/parys-gazette/news/news-news/2024/04/17/begrafnis-vir-dienslewering-gehou/)
“Ngwathe ervaar ‘n ernstige diensleweringskrisis en veroorsaak dat die inwoners van al die dorpe onder Ngwathe se bestuur, naamlik Parys, Heilbron, Koppies, Edenville en Vredefort, gebrekkige tot geen dienste ontvang nie, het die organisasie vandag, Vrydag 3 Mei, in ‘n verklaring gesê.
AfriForum vra in sy aansoek dat die Bloemfonteinse Hooggeregshof verklaar dat Ngwathe se optrede in stryd met hul grondwetlike, wetgewende en regulatoriese verpligtinge teenoor inwoners van dié munisipaliteit is.
Voorts sê die organisasie dat die munisipaliteit faal om ’n veilige en leefbare omgewing vir inwoners te verseker.
AfriForum verwys in die verklaring na die munisipaliteit se mislukking om munisipale administrasie te struktureer en te beheer, ‘n gebrek aan begrotings en beplanningsprosesse, en die munisipaliteit se mislukking om uiting te gee aan basiese behoeftes van die gemeenskap en om maatskaplike en ekonomiese groei van die gemeenskap te bevorder.
AfriForum sê in sy verklaring dat die optrede van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit teenstrydig met artikels 152(1) en 153(a) van die Grondwet is, en gronde bied vir die organisasie se aansoek om die munisipaliteit onder provinsiale administrasie te laat plaas.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivierdistrik, moet die regering nou dringend by hierdie munisipaliteit ingryp om ’n totale verval van die Ngwathe dorpe te verhoed. “Dit is van kritieke belang dat die regering nou toetree en ingryp anders sal AfriForum ander praktyke, soos saakwaarneming, oorweeg,” sluit Pretorius af.



