Local newsNews

Aappokke: Dit is wat jy moet weet

Bevestigde geval in SA

Die Minister van Gesondheid, Dr. Joe Phaahla het gevra dat die publiek waaksaam sal wees nadat ‘n laboratorium bevestigde geval van aappokke op 9 Mei by ‘n 35-jarige man van Gauteng gediagnoseer is. Voorlopige ondersoeke het getoon dat die persoon nie onlangs gereis het na lande waar uitbrake van die siekte tans gesien word nie.

Sporadiese uitbrake van die siekte word sedert 2023 in die Demokratiese Republiek van die Kongo gesien. Die laaste geval van die siekte in Suid-Afrika is in 2022 aangeteken.

Aappokke is ‘n  seldsame virusinfeksie by mense wat deur die aappokke virus (MPXV) veroorsaak word. Gevalle van die siekte het toegeneem sedert die 1980’s, en word geglo dat inentings teen pokke mense vroeër meer bestand teen aappokke gemaak het wat deur ‘n soortgelyke virus as pokke veroorsaak word.

Ape is nie die vernaamste draers van die virus nie, eerder kleiner knaagdiere en eekhorings. Daar is twee soorte aappokke – Sentraal Afrika aappokke en Wes-Afrika aappokkke.

Die siekte word oorgedra deur kontak met ‘n besmette persoon of dier, of besmette oppervlaktes wat die liggaam binnedring deur ‘n stukkende plek op die vel, inaseming of die slymvliese van die oë, neus of mond.

Mens-tot-mens oordragsyfers is gering, en glo navorers dat mens-tot-mens oordrag eerder gebeur deur inaseming as deur direkte kontak met liggaamsvloeistowwe of indirekte kontak deur klere.

Simptome is soortgelyk aan griep en sluit in koors, spierpyne, kortasem, moegheid,  en geswelde limfkliere  asook ‘n uitslag wat blasies vorm. Vandat jy aan die siekte blootgestel was totdat simptome gesien word, kan wissel van 5 tot 21 dae. Simptome duur tipies 2 tot 4 weke.

Aappokke word dikwels verwar met siektes soos masels, waterpokkies en selfs pokke.

Die siekte kan ernstig wees veral by swanger vroue en kinders. Meeste mense herstel egter van die siekte en is hospitalisasie selde nodig.

Van die gevalle in Afrika was die oorgrote meerderheid by kinders jonger as 15 jaar.

Die Departement van Gesondheid het vanoggend, Dinsdag 14 Mei, in ‘n verklaring gesê dat massa inenting teen die siekte nie op hierdie stadium nodig is nie, en dat kontak-opsporing en isolasie van bevestigde gevalle as protokol gedoen word. Daar is geen behandeling teen die siekte nie behalwe om simptome te verlig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button