Tien dae na die George-bouramp word daar steeds gesoek na die liggame van 19 mense wat op die bouperseel in Victoriastraat was waar ‘n halfvoltooide gebou net meer as ‘n week gelede inmekaar gesak het. Nooddienswerkers en ander rolspelers was teen vanoggend 06:00 reeds 232 uur op die ramptoneel besig.
Van die geskatte 81 mense wat op die bouperseel was toe die gebou ineengestort het verlede Maandag, is 62 gekry waarvan 33 oorledenes is.
Onder die oorledenes is 27 mans en ses vroue.
Twaalf mense word ook nog in hospitale behandel vir beserings.
Die George munisipaliteit het vanoggend in ‘n verslag gesê families van 47 van die slagoffers kon tot dusver opgespoor word.
Mense wat nog bydraes vir die noodspanne wil gee in die vorm van drinkwater, energiedrankies, of kos terwyl hulle op die ramptoneel besig is, kan dit afgee by AFM (AGS) Soteria Church te 27 Victoria Straat, George of skakel Gift of the Givers: Mario Ferreira (082 490 2752) of Herman Pienaar (082 829 6428) in dié verband.
President Cyril Ramaphosa, en die Wes-Kaapse premier, Alan Winde sal ook vandag die ramptoneel besoek.
Photograph: Garden Route District Municipality