Local newsNews

Rand Water moeg gesoebat oor Ngwathe skuld

Mense het nou geleentheid vir openbare vertoë, voorleggings en/of kommentaar. Dit sluit aan die einde van die 30ste kalenderdag vanaf datum van uitreiking van die kennisgewing

Rand Water wil Heilbron se waterkrane stywer toedraai, sou die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit nie plan maak met sy skuld aan die waterverskaffer nie. Die munisipaliteit sukkel al sedert 2019 om sy watterrekening te betaal, en skuld Rand Water nou R66 587 928,13 wat op 30 Maart 2024 betaal moes wees.

Rand Water se onverbiddelike aandrang dat wanbetalende munisipaliteite tot verant-woording geroep word, was die afgelope week duidelik in openbare kennisgewings aan verskeie munisipaliteite, waaronder ook Ngwathe. Hierin maak Rand Water sy voorneme bekend om grootmaat drinkwaterdienste na Heilbron met 20% te verminder binne 30 dae na die kennisgewing.

Heilbron is die enigste Ngwathe dorp wat deur Rand Water van water voorsien word.
Rand Water sê Ngwathe se versuim om sy skuld te betaal is ‘n volslae oortreding van die bepalings van die munisipaliteit se watervoorsieningskontrak met Rand Water, wat ook ondersteun word deur die Waterdienswet 108 van 1997.

“Hierdie skuld bedreig die funksionele en institusionele integriteit van Rand Water, en plaas Rand Water se vermoë om grootmaat waterdienste verskaffing op ‘n finansieel volhoubare grondslag aan te bied, in gevaar,” lees die kennisgewing.

Die bepalings van die watervoorsieningskontrak en artikel 4 van die Waterdienswet magtig Rand Water om grootmaat watervoorsieningsdienste te verminder in gevalle waar ‘n munisipaliteit nie sy kontraktuele bepalings en voorwaardes vir betaling sou nakom nie, of daarin sou faal om voldoende bewys te lewer van sy onvermoë om vir waterdienste te betaal.

Wat kommer wek is hoe die beoogde voorneme van Rand Water inwoners van dié Vrystaatse dorp gaan raak wat sedert Desember 2023 al met ernstige watertekorte sukkel.
In die kennisgewing sê Rand Water dat vermindering nie watervoorsieningsdienste in sy geheel beëindig nie, maar slegs die grootmaat watervoorsiening met 20% beperk. “wat die munisipaliteit met 80% laat.”

Daar word ook gesê dat Ngwathe openbare deelname prosesse moet inisieer om te verseker dat skriftelike vertoë van die publiek as eindverbruikers, ingewin kan word oor hoe inwoners glo die 80% van die water wat van Rand Water ontvang word, geprioritiseer behoort te word om die impak op kwesbare verbruikers soos skole en ouetehuise te minimaliseer.

Oor die afgelope maande was waterdruk in Heilbron met tye so laag dat gedeeltes van die dorp nie ‘n druppel water kry nie. Watervoorsiening wat vroeër gemiddeld 8 megaliter water per dag was, wissel nou van ‘n skamele 3,8 megaliter per dag wat op 6 Maart gemeet is, tot 5,2 megaliter per dag tussen 7 en 12 Maart ,en 4,6 megaliter per dag wat vroeg in April gemeet is.

Op 8 Mei het inwoners saamgetrek vir ‘n protesoptog oor die dorp se ewige waternood nadat daar Maandag, 6 Mei weer net ‘n skamele 4,6 megaliter water per dag vir die dorp was wat nie naastenby genoeg is om aan die waterbehoefte van inwoners te kan voorsien nie.

Gazette het in April berig dat die dorp se waterstryd opnuut begin het enkele dae nadat die Noord-Gautengse Hooggeregshof op 26 Maart beslis het dat AfriForum se aansoek vir ‘n dringende interdik vir die herstel van watertoevoer na Heilbron onnodig sou wees omdat Rand Water toe reeds die vroeëre waterbesnoeiing in die dorp gestaak het.

Die waterbesnoeiing is toe ook deur Rand Water in Heilbron as skuldinvorderings-meganisme gebruik. AfriForum se hofaansoek in Maart was na Rand Water se vorige kennisgewing op 1 Maart waarin die Merafong, Rand West, Emfuleni, Lesedi, Ngwathe, Govan Mbeki en Victor Kyanye munisipaliteite gewaarsku is oor waterbesnoeiings as dié munisipaliteite nie hul skuld betaal nie. Die munisipaliteite het toe al Rand Water gesamentlik R3 miljard geskuld.

Voor die kennisgewing is Ngwathe en Merafong ook op 24 Februarie gewaarsku oor Rand Water se voorneme vir waterbesnoeiing, en was dié twee munisipaliteite die enigstes wat gewaarsku is, waar waterbesnoeiings toegepas is, en daarna weer opgehef is.

In Januarie het Gazette berig dat die Minister van Waterwese en Sanitasie aangedui het dat Ngwathe nooit op Rand Water se verminderingskennisgewing van Desember 2023 gereageer het nie, en dat Rand Water gevolglik aangeneem het dat Ngwathe die vermindering aanvaar. Die korrektheid van die bewering, is deur die burgemeester betwis.

Inwoners en sakelui is egter bekommerd oor wat die voortslepende waterkrisis aan die dorp se ekonomie doen. Steven Velthuysen, bestuurder regs-sekretariële en menslike hulpbronbestuur by Clover, een van Heilbron se grootste nywerhede, het in Maart vanjaar gesê dat dit tans bitter moeilik is om nuwe besigheid na kleiner dorpe te bring as gevolg van die onvoorspelbaarheid van dienste soos water en krag wat groot verliese en addisionele koste meebring.

Vir Ngwathe om te voldoen aan Rand Water se eis dat die lopende rekening gereeld betaal word, en ‘n afbetalingsplan beding en nagekom word, is onhaalbaar gegewe Ngwathe se huidige finansiële krisis, meen raadslede.

Mense het nou geleentheid vir openbare vertoë, voorleggings en/of kommentaar. Dit sluit aan die einde van die 30ste kalenderdag vanaf datum van uitreiking van die kennisgewing en moet ingedien word by: RAND WATERGROEP REGSDIENSTE, Impalaweg 522, of kan gepos word na Posbus 1127, Johannesburg 2000, of per e-pos gestuur word na Customerservice@randwater.co.za

Related Articles

Back to top button