Diewe dra selfs kerkklok weg
Die kerk vra dat sou enigeen inligting het wat kan help om die skuldiges vas te trek, dit aan die polisie in Tumahole gerapporteer moet word waar die diefstalklagte aangemeld is
Die NG gemeente in Schonkenville het groot skade nadat daar verlede week twee keer by die kerkgebou ingebreek is en selfs die kerkklok gesteel is. Waterpype en elektriese bedrading is uitgeruk, en skade aan die badkamers aangerig.
Selfs die plafon is beskadig wat net enkele maande tevore vervang is toe die kombuis in Oktober 2023, danksy skenkings oorgedoen en nuwe kombuisteëls en rakke ingesit is.
Die eerste inbraak was verlede Dinsdag toe daar deur die dak toegang tot die kerkgebou gekry is, Vrydagaand was die diewe terug.
Dié keer het hulle by ‘n venster ingekom en probeer om die wasbak in die kombuis uit te breek. Hulle kon nie die wasbak uitkry nie, maar die waterpype is so beskadig dat water deur die nag oor die kombuisvloer, en in die kerk ingestroom het.


Die kombuis en kerk is in dieselfde gebou.
Die skade is ontdek toe daar Saterdagoggend oopgesluit is om skoon te maak vir Sondag se diens.

Die kerk vra dat sou enigeen inligting het wat kan help om die skuldiges vas te trek, dit aan die polisie in Tumahole gerapporteer moet word waar die diefstalklagte aangemeld is



