Local newsNews

Toekenning span die kroon op deursettingsvermoë

Vir dié merkwaardige jongmeisie is haar blindheid nie 'n hindernis nie, maar 'n ongelooflike getuienis van deursettingsvermoë, van aanhou en nie moed verloor nie, van waagmoed en durf om in 'n sienende wêreld haar weg te vind.

Parys se Genevieve Croeser is aangewys as die top eerstejaarstudent vir 2023 vir BA Regte uit studente van al die Noordwes Universiteit se kampusse (Potchefstroom, Vanderbijlpark en Mahikeng). Slegs die top 10 studente in BA Regte, LLB en BCom Regte is genooi na die prestige meriete toekenningsgeleentheid wat verlede week gehou is.

Vir dié oudleerder van Hoërskool Parys is die toekenning egter ‘n veel groter prestasie. Omdat sy blind is het die lewe haar vroeg-vroeg geleer om vir elke uitdaging ‘n oplossing te soek, en groot te droom.

Maklik was dit beslis nie om in ‘n sienende wêreld haar weg op kampus saam met haar gidshond, Brinkley, te vind nie. Om Brinkley die roetes te leer wat sy moet loop om by lesinglokale te kom, was om mee te begin al ‘n uitdaging omdat daar min bakens tussen lesingslokale is, en dit tyd gevat het om Brinkley te leer.

Met humor vertel sy van die konsternasie met verskillende ingange by lesingslokale. Vir dié twee is ‘n toe deur waarby hulle gewoonlik sou ingaan, ‘n groot dilemma, maar kon sy nog altyd staatmaak op haar klasmaats en dosente om haar te help om die pad te wys, vertel sy.

Terwyl haar mede-studente gemaklik notas en illustrasies tydens lesings kan volg, moes Genevieve saam met haar dosente ‘n manier vind om seker te maak dat sy vooraf lesings kry om dit met die hulp van haar spesiale rekenaar, ‘n Apex Braille Note Touch Plus, om te skakel na Braille.

Daar was ook die gewone uitdagings vir ‘n eerstejaar soos om skielik in Engels klas te draf, terwyl Afrikaans haar huistaal is. Die groot hoeveelheid studente in ‘n lesingslokaal is ook iets om aan gewoond te raak, want skielik is jy net ‘n studentenommer, en is daar nie die persoonlike kontak wat jy in ‘n klaskamer op skool het nie, vertel sy.

Die toekenning was vir haar ‘n groot verrassing, en het sy dit glad nie verwag nie.

“Dit is baie harde werk, en jy moet weet wat dit van jou gaan vereis om bo uit te kom. Jy gaan uitmis op baie dinge, maar jy sal terugkry wat jy insit,” sê sy oor haar prestasie.

Sy is dankbaar teenoor elkeen van haar dosente wat help om dit vir haar as gesiggestremde so gemaklik as moontlik op kampus te maak.

Genevieve is tans ‘n tweedejaar student in BA Regte met Sielkunde, en wil graag haar honneurs- en meestersgrade ook voltooi. Vra jy haar hoekom sy besluit het om regte te studeer, is die humor weer daar as sy sê: “My pa het gesê ek kan enigiets studeer solank ek net eers ‘n prokureur word.”

Genevieve het vroeër vanjaar haar kleintyd skryfdroom verwesenlik toe sy op 20-jarige ouderdom haar eerste boek, Not quite meant to be, onafhanklik gepubliseer het.

Op skool het Genieve wat van geboorte af blind is, al uitgeblink toe sy in haar matriekjaar ook die provinsiale wenner van die ATKV se senior olimpiade vir Afrikaans Huistaal was.

“Daar gaan dae wees wat jy sukkel, maar die kuns is om aan te hou probeer,” glo Genevieve. Vir dié merkwaardige jongmeisie is haar blindheid nie ‘n hindernis nie, maar ‘n ongelooflike getuienis van deursettingsvermoë, van aanhou en nie moed verloor nie, van waagmoed en durf om in ‘n sienende wêreld haar weg te vind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button