Local newsNews

Ons onthou hulle wat met hul lewens betaal het

"Ons herdenk vandag hulle wat hul lewens verloor het vir hul land. Dit is hoekom ons hulle moet onthou. Gewillige mense wat die hoogste offer betaal het vir hul land, en wie se families met baie hartseer en ontwrigting agtergelaat is. Elke geslag en tydperk vra opofferings - laat ons hulle daarom nie vergeet nie."

Fier en regop, trots in uniform het lede van die MOTHs Barrage Shellhole vanoggend aangetree vir parade. Op hul lapelwapens ‘n miniatuur staalhelm. Saamgesnoer in troue kameraadskap, om hulle te onthou wat nie meer daar is nie. Wat sy aan sy geveg het, maar die hoogste prys betaal het in die wêreld se eerste oorlog wat vier jaar van hartseer en ellende sou bring.

‘n Oorlog wat uiteindelik op die elfde uur van die elfde dag van die elfde maand sou eindig toe kanonvuur stilgeword, en die wapens neergelê is.

Die Eerste Wêreldoorlog wat van 28 Julie  1914 tot 11 November 1918 sou duur, sou later ook bekend word as ‘n loopgraafoorlog met grootskaalse bomaanvalle.

Meer as 70 miljoen uit 40 lande – ook Suid-Afrikaners, het hul lewens gewaag in die vernietigende oorlog wat gevolg het op die konflik tussen die geallieerde magte en die Sentrale Moondhede.

Meer as 17 miljoen sou uiteindelik in die oorlog sterf.

Suid-Afrika, toe nog die Unie van Suid-Afrika, se deelname was onvermydelik as deel van die Britse Ryk. Hiervan is die talle monumente en gedenkstene wat hulle onthou wat in die oorlog gesterf het, ‘n stille getuienis.
Ongelukkig weens groot ongelukkigheid en onrus rebellie in Suid-Afrika, en die Groot Griep wat gevolg het, is daar nooit groot erkenning gegee aan die rol wat Suid-Afrikaners in die Eerste Wêreldoorlog geespeel het nie.

Die wapenstilstand:

Die wapenstilstand tussen ‘n verslane Duitsland en die geallieerdes is op ‘n treinwa buite Compiegne, Frankryk, gesluit kort voor 05:00 die oggend. Presies om 11:00 op 11 November 1918 was die bekende dreuning van die kanonne stil. ‘n Stilte wat jaarlik oor die wêreld herdenk word met kransleggings en parades.

Die herdenkingsdag is vandag bekend as Wapenstilstanddag of Poppiedag.
Hoekom die rooi poppies?
Die gebruik om rooi papawer/poppie lapelwapens, of selfs rooi blomme of kranse met rooi poppies te lê, skryf Kobie het sy oorsprong uit Vlaandere, België, wat die bloedigste slagveld tydens die oorlog was met sy loopgrawe, en rooi papawers of poppies wat oral in die velde op die Wes-Front in vol blom gestaan het.Selfs in die briewe aan hul geliefdes, het soldate die blomme wat hulle gepars het, gesit

.Die poppie-blomme met hul kort lewensduur – simbolies van jong soldate wat in die fleur van hul lewens gesterf het, en die vier blomblare – die simboliek van soldate wat uit vier uithoeke van die wêreld gekom het.Interessant is dat die pers poppieblomme in 2006 bygevoeg is as simboliek om ook die miljoene diere te onthou wat in haglike omstandighede die mens in hierdie oorlog getrou gedien het tot die dood. Miljoene perde het onder andere omgekom.

Twee minute stilte:

Die twee minute stilte ter herdenking van die dag waarop die wapens neergesit is, is die eerste keer op 14 Desember 1918 in Kaapstad gehandhaaf. ‘n Gebruik wat vandag oor die wêreld op die dag gehandhaaf word te danke aan Sir Percy Fitzpatrick, die bekende skrywer van Jock of the Bushveld. wie se seun, ook Percy, op 14 Desember 1917 in Frankryk gesterf het. Hy was net 28 jaar oud

In hul boodskap Sondag het die MOThs gesê: “Ons herdenk vandag hulle wat hul lewens verloor het vir hul land. Dit is hoekom ons hulle moet onthou. Gewillige mense wat die hoogste offer betaal het vir hul land, en wie se families met baie hartseer en ontwrigting agtergelaat is. Elke geslag en tydperk vra opofferings – laat ons hulle daarom nie vergeet nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button