Eindelose kragprobleme na stormskade
Die Ngwathe tegniese span is steeds besig met herstelwerk by verskeie adresse wat sedert verlede Donderdag gerapporteer is.
Die Ngwathe tegniese span is steeds besig om kragprobleme te herstel na skade weens die haelstorm wat Donderdag die dorp getref het, asook wind en swaar reën wat ook oor die naweek verdere skade veroorsaak het.
Minstens 60 klagtes was vanoggend nog op die klagtelys van kragprobleme in Parys, Tumahole en Schonkenville.
Die span was rondom 10:00 in Conroystraat naby die ou jukskei klubhuis besig om ‘n kraglyn te herstel nadat ‘n boom op die kraglyn geval het.


Met net een ‘cherry picker’ wat vir Parys beskikbaar is, vertraag dit herstelwerk. Sommige inwoners het teen vanoggend reeds 90 uur sonder krag gesit. Raadslede het vanoggend gesê daar is ‘n dringende behoefte om hulp te kry met nog ‘cherry pickers’ om die agterstand met klagtes in te haal. Die raad sit môre.
Ook in Vredefort is daar sedert verlede week eindelose kragprobleme.
Nog reën word deur die weerdiens vir vandag en môre vir Parys voorspel, en het die weerdiens ook gewaarsku teen donderstorms wat vanmiddag verwag word.



