Breytenbach was ‘n woordsmid soos min
"Sy werk het die letterkunde en die kunste plaaslik sowel as in die buiteland geraak en beïnvloed.
Die gevierde Suid-Afrikaanse skrywer en digter Breyten Breytenbach is vanoggend in die ouderdom van 85 jaar oorlede in Parys, Frankryk. Sy vrou, Yolande, was by hom.
Breytenbach is in 1939 in Bonnievale in die Wes-Kaap gebore en het ‘n groot deel van sy lewe in die buiteland deurgebring.
In ‘n familieverklaring deur Leon Breytenbach, seun van wyle Cloete Breytenbach, is gesê dat Breytenbach “‘n gevierde woordsmid was – ‘n digter, romanskrywer, skilder en aktivis wie se werk die letterkunde en die kunste sowel plaaslik as in die buiteland geraak en beïnvloed het.”
“Bekend vir sy meesterlike digbundels in Afrikaans, asook outobiografiese werke soos The true Confessions of an Albino Terrorist en A Season in Paradise, het hy vreesloos temas van ballingskap, identiteit en geregtigheid aangespreek,” lees die verklaring verder.

In een van vele huldeblyke aan die gevierde skrywer wat in antwoord op die verklaring geplaas is, skryf Marinta Skupin: “Ek is dankbaar dat ek een van ‘n magdom mense kan wees wat diep aangeraak is deur Breyten Breytenbach se werk en sy lewe. Sy waagmoed, sy integriteit, en sy magiese woorde sal altyd ‘n bron van ontsaglike inspirasie vir my bly. Met groot eerbied en met innige medelye aan sy familie en geliefdes.”
In nog ‘n huldeblyk skryf Petrussa Oosthuizen: “Woordeskepper van formaat. Onberispelike taalgebruik. Hy het Afrikaans eer aangedoen. Niemand kan vir ewig leef nie, maar sy nalatenskap sal.”
Breytenbach word oorleef deur Yolande, sy dogter Daphnée en twee kleinseuns.




